Vulkaan

Skeuring in die kors van 'n planeet

'n Vulkaan is 'n skeuring in die kors van 'n planeet soos die Aarde wat toelaat dat warm lawa, vulkaniese as en gasse uit 'n magmakamer onder die oppervlak ontsnap.

Die Cleveland-vulkaan op die Aleoetiese Eilande van Alaska, afgeneem uit die Internasionale Ruimtestasie (Mei 2006).
Aspluime tot 19 km hoog tydens die uitbarsting van die berg Pinatubo in die Filippyne (1991).
Die uitbarsting in 2007 van die berg Etna.
Die berg Shasta, 'n potensieel aktiewe stratovulkaan in Noord-Kalifornië.
'n Kaart wat die grense van divergente plate (oseaniese skeure) toon, asook onlangse vulkane op die aardoppervlak (meestal by konvergente grense).

Vulkane op die Aarde bars uit omdat die kors in 'n paar groot, rigiede en verskeie kleiner tektoniese plate verdeel is wat op 'n warmer, sagter laag (die aardmantel) dryf.[1] Die aarde se vulkane vorm oor die algemeen waar tektoniese plate na mekaar beweeg (konvergent) of weg van mekaar beweeg (divergent). Die meeste is onderwater. 'n Rif in die middel van 'n oseaan, soos die Mid-Atlantiese Rug, vorm byvoorbeeld as gevolg van divergente plate, terwyl die Ring van Vuur se vulkane gevorm word deur konvergente plate.

Vulkane kan ook vorm waar die aardkors se plate gerek en dus verdun word, soos met die Oos-Afrikaanse Skeur. Vulkanisme op ander plekke as by plaatgrense word vermoedelik veroorsaak deur opstotende magma vanaf die grens tussen die Aarde se mantel en kern, 3 000 km onder die oppervlak. Dit veroorsaak warmkolvulkanisme, waarvan die Hawaise warm kol 'n voorbeeld is. Vulkane vorm gewoonlik nie waar twee tektoniese plate verby mekaar skuif nie.

Groot vulkaanuitbarstings kan die atmosferiese temperatuur beïnvloed wanneer as en druppels swaelsuur die Son verduister en die Aarde se troposfeer afkoel. Dit absorbeer ook die hitte wat van die Aarde af uitgestraal word en verhit die stratosfeer. Groot uitbarstings word soms gevolg deur vulkaanwinters, wat al rampspoedige hongersnood veroorsaak het.

Ander gevolge is vir onder meer lugvaart, wanneer die as dit moeilik of onmoontlik vir vliegtuie maak om te vlieg.

Etimologie

wysig

Die woord "vulkaan" is afgelei van die naam Vulcano, 'n vulkaniese eiland in die Eoliese Eilande van Italië, wat die naam gekry het van Vulcanus, die god van vuur uit die Romeinse mitologie.[2] Die studie van vulkane word vulkanologie genoem.

Plaattektoniek

wysig

Volgens die teorie van plaattektoniek is die Aarde se harde buitenste kors, die litosfeer, opgedeel in 'n paar groot en verskeie kleiner plate. Hulle beweeg geleidelik vanweë die konveksie in die aardmantel onder die kors. Die meeste vulkaniese aktiwiteit op Aarde vind plaas al met dié plaatgrense langs waar plate van mekaar wegbeweeg of divergeer (en nuwe litosfeer geskep word), of na mekaar toe beweeg of konvergeer (en litosfeer vernietig word).[3]

Grense tussen divergente plate

wysig

By die mid-oseaanriwwe divergeer twee tektoniese plate van mekaar terwyl warm mantelrots opwaarts kruip tussen die verdunde oseaankors in. Die afname van druk in die stygende mantelrots lei tot adiabatiese uitsetting en die gedeeltelike smelting van die rots, en dit veroorsaak vulkanisme en skep nuwe oseaankors.

Die meeste grense tussen divergente plate lê op die bodem van die oseane, en daarom vind die grootste vulkaniese aktiwiteit op Aarde onder die water plaas. Swart rookgate is bewys van dié soort vulkaniese aktiwiteit. Wanneer die mid-oseaanrif bo die seevlak is, word vulkaaneilande gevorm, soos Ysland.[4]

Grense tussen konvergente plate

wysig

Subduksiesones is plekke waar twee plate, gewoonlik 'n oseaniese en 'n kontinentale plaat, bots. Die swaarder oseaniese plaat trek af onder die kontinentale plaat in, en vorm naby die kus 'n diep oseaantrog. Water wat vrygestel word van die aftrekkende plaat, verlaag die smelttemperatuur van die mantelwig bo hom en skep dus magma.

Dié magma is geneig om uiters vloeitraag, of taai, te wees vanweë die groot silika-inhoud – dit bereik dus nie die oppervlak nie, maar koel af en stol. Wanneer dit wel die oppervlak bereik, word 'n vulkaan gevorm. Subduksiesones word dus begrens deur kettings vulkane, wat vulkaanboë genoem word. Tipiese voorbeelde is die vulkane van die Pasifiese Ring van Vuur, soos die Japannese Argipel.[5]

Deursnee van die aardkors (geel), met magma wat van die mantel af opstyg (rooi). Die kors kan relatief tot die pluim beweeg en 'n vulkaanopening skep.

Warm kolle

wysig

Warm kolle is vulkaangebiede wat vermoedelik geskep word deur mantelpluime, wat hipotetiese kolomme warm materiaal is wat van die grens tussen die aarde se mantel en kern af opstyg. Nes by middeloseaniese skeure, ondergaan die stygende mantelrots dekompressiesmelting, wat groot hoeveelhede magma voortbring.

Omdat tektoniese plate oor mantelpluime beweeg, word elke vulkaan onaktief wanneer dit van die pluim af dryf, en nuwe vulkane word geskep waar die plaat oor die pluim beweeg. Die Hawaise Eilande het vermoedelik op so 'n manier gevorm. Die Yellowstone-kaldera is vermoedelik deel van die Noord-Amerikaanse Plaat wat op die oomblik bo die Yellowstone- warm kol lê.[6]

Die mantelpluimhipotese word egter betwis.[7]

Kontinentale skeure

wysig

Die volgehoue opwelling van warm mantelrots kan onder die middel van 'n kontinent ontwikkel en tot skeure in die aardkors lei. Vroeë fases van skeurvorming word gekenmerk deur vloedbasalt, en baie vorder tot op die punt waar 'n tektoniese plaat heeltemal gesplits word.[8][9]

'n Divergente plaatgrens ontwikkel dan tussen die twee helftes van die gesplete plaat. Skeure splits egter dikwels nie die aardkors heeltemal nie, en mislukte skeure word gekenmerk deur vulkane wat ongewone alkali- of karbonaatgesteentes uitwerp. Voorbeelde sluit in die vulkane van die Oos-Afrikaanse Skeur.[10]

Soorte vulkane

wysig
Die Lakagigar-skeuropening in Ysland, die bron van die groot klimaatsverandering van 1783-'84, het 'n ketting vulkaankeëls in sy lengte af.
'n Vulkaanskeur en lawakanaal.
Skjaldbreiður, 'n skildvulkaan waarvan die naam "beë skild" beteken.

Die algemeenste opvatting van 'n vulkaan is dié van 'n keëlvormige berg wat lawa en giftige gasse uit 'n krater se kruin spoeg. Dit is egter maar net een van talle soorte vulkane. Die eienskappe van vulkane is baie komplekser as dit en die strukture en aktiwiteite daarvan hang van verskeie faktore af. Sommige vulkane het rowwe pieke wat deur lawakoepels gevorm is, eerder as 'n kruinkrater, terwyl ander weer soos enorme plato's lyk.

Openinge wat vulkaniese stowwe (insluitende lawa en as) en gasse (hoofsaaklik stoom en magmagasse) uitlaat, kan op enige plek op die grondoppervlak ontwikkel en aanleiding gee tot kleiner koepels, soos Puʻu ʻŌʻō teen 'n hang van Hawaii se Kīlauea.

Ander soorte vulkane sluit in kriovulkane (of ysvulkane), veral op sommige mane van JupiterSaturnus en Neptunus; en moddervulkane, formasies wat dikwels nie met bekende magmatiese aktiwiteit verbind word nie. Aktiewe moddervulkane neig om by temperature baie laer as dié van stollingsgesteentevulkane voor te kom, behalwe wanneer die moddervulkaan inderdaad 'n uitlaatklep is van 'n stollingsgesteentevulkaan.

Skeuropeninge

wysig
Die Izalco-vulkaan, die jongste vulkaan in El Salvador. Izalco het van 1770 (toe dit gevorm het) tot 1958 feitlik onophoudelik uitgebars. Dit het die bynaam "Vuurtoring van die Stille Oseaan" gekry.

Vulkaniese skeuropeninge, of net vulkaanskeure, is plat, liniêre breuke waardeur lawa uitloop, gewoonlik sonder enige ontploffende aktiwiteit. Die opening is gewoonlik 'n paar meter breed en kan 'n paar kilometer lank wees. Groot basaltvloede kan daaruit loop: eers in lawakanale en later in lawatonnels.

Skildvulkane

wysig

Skildvulkane, wat so genoem word vanweë hulle breë, skildvormige profiel, word gevorm deur die uitbarsting van nieklewerige lawa wat ver van 'n breuk af kan vloei. Hulle ontplof gewoonlik nie op 'n katastrofiese wyse nie, maar word gekenmerk deur relatief bedaarde uitvloeiings. Aangesien dié soort magma gewoonlik min silika bevat, is skildvulkane algemener in die oseane as op land. Die Hawaise vulkaniese ketting is 'n reeks skildkeëls. Dit kom ook algemeen in Ysland voor.

Lawakoepels

wysig

Lawakoepels word opgebou deur stadige uitbarstings van dik, taai lawa. Dit vorm soms binne die krater van 'n vorige vulkaanuitbarsting, soos die geval was met Mount Saint Helens, maar kan ook onafhanklik vorm, soos met Lassenpiek. Soos met stratovulkane, kan lawakoepels gewelddadige, ontploffende uitbarstings skep, maar die lawa vloei gewoonlik nie ver van die uitlaat af nie.

Kriptokoepels

wysig

Kriptokoepels vorm wanneer taai lawa na bo gedwing word en die oppervlak laat uitbult. Die uitbarsting van 1980 van Mount Saint Helens is 'n goeie voorbeeld hiervan. Lawa onder die oppervlak van die berg het dit laat uitbult, en dit het later aan die noordekant van die berg afgestort.

Sintelkeëls

wysig

Sintelkeëls ontstaan uit die uitbarsting van klein stukke vulkaanslak en piroklaste (wat albei soos sintels lyk, vandaar die naam van dié vulkaansoort) wat om die opening opgebou het. Dié uitbarstings kan kort duur en 'n keëlvormige heuwel skep wat miskien 30-400 m hoog kan wees. Die meeste sintelkeëls bars net een keer uit. Hulle kan aan die hange van groter vulkane vorm, of op hulle eie. Parícutin in Mexiko is 'n voorbeeld van 'n sintelkeël. In Nieu-Mexiko is Caja del Rio 'n vulkaanveld met meer as 60 sintelkeëls.

Na aanleiding van satellietfoto's is voorgestel dat sintelkeëls ook op ander hemelliggame in die Sonnestelsel kan voorkom: op die oppervlak van die Maan en van Mars.[11][12][13][14]

Stratovulkane (saamgestelde vulkane)

wysig
Deursnee van 'n stratovulkaan (vertikale skaal oordryf):
  1. Groot magmakamer
  2. Rotsbodem
  3. Pyp
  4. Basis
  5. Intrusieplaat
  6. Intrusiegang
  7. Lae as uit die vulkaan
  8. Hang
  9. Lae lawa uit die vulkaan
  10. Keel
  11. Parasitiese keël
  12. Lawavloei
  13. Opening
  14. Krater
  15. Aswolk

Stratovulkane is hoë, keëlvormige berge wat saamgestel is uit afwisselende lawastrome en puinlae – dit is die lae wat tot die naam aanleiding gegee het. Stratovulkane is ook as saamgestelde vulkane bekend omdat hulle uit 'n verskeidenheid strukture bestaan wat gedurende verskillende soorte uitbarstings gevorm word. Klassieke voorbeelde is die berge Foedji in Japan en Vesuvius in Italië.

As wat deur die ontploffings van stratovulkane gevorm word, word histories beskou as die grootste gevaar wat vulkane vir beskawings inhou. Die lawa van stratovulkane bevat meer silika en is dus taaier as lawa van skildvulkane. Silikaryk lawa is geneig om ook meer opgeloste gas te bevat. Die kombinasie is dodelik en lei tot ontploffende uitbarstings wat groter hoeveelhede as tot gevolg het, sowel as piroklastiese strome soos die een wat die stad Saint-Pierre op Martinique in 1902 verwoes het.

Stratovulkane is ook steiler as skildvulkane, met hange van 30-35° in vergelyking met die 5-10° van skildvulkane. Hulle los puin is ook materiaal vir gevaarlike modderstrome (lahars).[15] Groot stukke vulkaanpuin is bekend as "vulkaanbomme". Groot bomme kan tot meer as 1,2 m breed wees en verskeie tonne weeg.[16]

Supervulkane

wysig

'n Supervulkaan is 'n vulkaan wat een of meer keer meer as 1 000 km3 vulkaandeposito's in 'n enkele uitbarstings uitgewerp het.[17] Sulke uitbarstings kom voor wanneer 'n baie groot magmakamer vol gas- en silikaryk magma in 'n katastrofiese kalderavormende uibarsting leeggeskiet word. Vulkaniese as uit sulke uitbarstings is die enigste vulkaniese produk met volumes wat dié van vloedbasalt kan ewenaar.[18]

'n Supervulkaan kan op 'n kontinentale skaal verwoesting saai. Hulle kan die temperatuur wêreldwyd vir baie jare laat daal weens die groot hoeveelhede swael en as wat in die atmosfeer vrygestel word. Hulle is die gevaarlikste soort vulkane. Voorbeelde sluit in die Yellowstonekaldera in die Yellowstone Nasionale Park, die Valleskaldera in Nieu-Mexiko, die Tobameer in Soematra en die Ngorongorokrater in Tanzanië.

Gelukkig kom supervulkaanuitbarstings selde voor, maar die vulkane kan moeilik wees om in die geologiese rekord te identifiseer vanweë die enrome gebied wat hulle beslaan en die bedekking daarvan deur plantegroei en gletsers.[19]

Ondersese vulkane

wysig

Ondersese vulkane is 'n algemene verskynsel. Vulkaanaktiwiteit gedurende die huidige geologiese epog, die Holoseen, is by net 119 ondersese vulkane aangeteken, maar daar kan meer as 'n miljoen geologies jong ondersese vulkane op die seebodem wees.[20][21]

In vlak water wys aktiewe vulkane hulle teenwoordigheid deur stoom en stukke rots hoog bokant die seeoppervlak uit te blaas. In die diep oseane verhoed die ontsettende gewig van die water die ontploffende uitlaat van stoom en gasse, maar ondersese uitbarstings kan bespeur word met hidrofone en die verkleuring van die water deur vulkaniese gasse. Kussinglawa is 'n algemene uitbarstingsproduk van ondersese vulkane en word gekenmerk deur dik lae onderbroke, kussingvormige massas wat onder die water vorm.

'n Fresko met Vesuvius agter Bacchus en Agatodaimon, soos gesien in Pompeji se Eeufeeshuis.

Selfs groot ondersese uitbarstings sal dalk nie die see-oppervlak versteur nie vanweë die vinnige afkoelingsuitwerking en groot dryfvermoë in water (in teenstelling met lug), wat dikwels veroorsaak dat vulkaanopeninge op die seebodem steil pilare vorm.

Mettertyd kan die formasies wat deur ondersese vulkane geskep word so groot word dat hulle deur die oppervlak breek as nuwe eilande of puimsteenvlotte.

In Mei en Junie 2018 is talle seismiese seine wêreldwyd bespeur deur agentskappe wat aardbewings monitor. Dit was ongewone gonsgeluide, en in Novermber dié jaar is seine van tot 20 minute waargeneem. Oseaniese navorsing in Mei 2019 het getoon die gonsgeluide is veroorsaak deur die vorming van 'n ondersese vulkaan naby die kus van Mayotte.[22]

Subglasiale vulkane

wysig

Subglasiale vulkane word onder yskappe gevorm. Hulle bestaan uit lawaplato's wat uitgebreide kussinglawas en palagoniet bedek. Dié vulkane word ook tafelvulkane genoem. Baie goeie voorbeelde daarvan kan in Ysland en Brits-Columbië gesien word.

Moddervulkane

wysig

Moddervulkane (modderkoepels) is formasies wat deur uitgeworpe vloeistowwe en gasse geskep word, maar ook deur verskeie ander prosesse.[23] Die grootste strukture is 10 km breed en tot 700 m hoog.[24]

Uitgeworpe materiaal

wysig
Pāhoehoe-lawa vloei op Hawaii. Die foto wys ook strome van 'n hooflawakanaal.
Die Stromboli-stratovulkaan naby die Sisiliaanse kus het duisende jare lank aanhoudend uitgebars. Dit het aanleiding gegee tot die bynaam "Vuurtoring van die Middellandse See".

Die materiaal wat gedurende 'n vulkaanuitbarsting uitgewerp word, die ejekta of ejektamenta, kan in drie soorte geklassifiseer word:

  1. Gasse, 'n mengsel van hoofsaaklik stoom, koolstofdioksied en 'n swaelverbinding (óf swaeldioksied, SO2, óf waterstofsulfied, H2S, na gelang van die temperatuur)
  2. Lawa, die naam van magma wanneer dit oor die aardoppervlak vloei
  3. Tefra, deeltjies soliede materiaal van alle vorms en groottes wat deur die lug trek[25]

Vulkaangasse

wysig

Die konsentrasies van verskillende vulkaangasse wissel geweldig van een vulkaan tot die volgende. Waterdamp is gewoonlik die volopste vulkaangas, gevolg deur koolstof-[26] en swaeldioksied. Ander hoofsoorte gas sluit in waterstofsulfied, waterstofchloried en waterstoffluoried. Baie spoor- en klein hoeveelhede gasse word ook aangetref, soos waterstof, koolstofmonoksied, halokoolstowwe, organiese verbindings en vlugtige metaalchloriede.

Lawastrome

wysig
Piek Saritsjef op Matoea in die Koerile.

Die vorm en styl van 'n vulkaan se uitbarsting word grootliks bepaal deur die samestelling van die lawa wat uitgewerp word. Die taaiheid (hoe vloeibaar die lawa is) en die hoeveelheid opgeloste gasse is die belangrikste eienskappe van magma, en albei word in 'n groot mate bepaal deur die hoeveelheid silika in die magma. Magma wat ryk aan silika is, is taaier as silika-arm magma en is geneig om ook meer opgeloste gasse te bevat.

Lawa kan breedweg in vier soorte samestellings geklassifiseer word:[27]

  • As die magma wat uitgewerp word 'n hoë persentasie (>63%) silika bevat, word die lawa as "felsies" beskryf. Felsiese lawas (dasiete en rioliete) is baie taai en word uitgewerp as koepels of kort strome.[28]

    Omdat felsiese magmas so taai is, is hulle geneig om vlugtige gasse wat teenwoordig is, vas te vang. Dit lei tot ontploffende vulkanisme. Piroklastiese strome is baie gevaarlike produkte van sulke vulkane, omdat hulle teen die vulkaan se hange afbeweeg en tot ver van die vulkaanopeninge af vloei tydens groot uitbarstings. Temperature tot 850 °C[29] kan in piroklastiese strome bereik word, en dit sal dus enigiets vlambaars in hulle pad veras. Deposito's wat deur piroklastiese strome agtergelaat word, kan ook tot verskeie meters hoog wees.[30]

    Felsiese magmas word in die kors gevorm, gewoonlik deur die smelting van korsrots deur die hitte van onderliggende mafiese magmas. Die ligter felsiese magma dryf op die mafiese magma sonder dat dit veel meng.[31]

  • As die magma wat uitgewerp word 52-63% silika bevat, is dit van "gemiddelde samestelling", of andesities. Sulke magmas is kenmerkend van stratovulkane.[32] Hulle word gewoonlik gevorm by konvergente grense tussen tektoniese plate, deur middel van verskeie prosesse. Een is die vermenging van felsiese en mafiese magmas in 'n tussentydse reservoir voordat die lawa begin vloei.[33]
  • As die magma <52% en >45% silika bevat, is die magma mafies (omdat dit hoër persentasies magnesium, Mg, en yster, Fe, bevat) of basalties. Dié lawas is gewoonlik warmer en baie minder taai as felsiese lawas. Mafiese magmas word gevorm deur die gedeeltelike smelting van droë mantel.[34]Mafiese lawas kom voor in 'n wye reeks terreine. Dit sluit in middeloseaniese riwwe, skildvulkane en oseaniese en kontinentale korse.
  • Sommige magmas bevat <=45% silika en het "ultramafiese" lawa tot gevolg. Dit is baie skaars – baie min is op die Aarde uitgewerp sedert die Proterosoïkum, toe die planeet se hittevloei hoër was. Hulle is (of was) die warmste lawas en waarskynlik vloeibaarder as gewone mafiese lawas.[35]

Tefra

wysig

Tefra, ook piroklaste genoem, word geskep wanneer magma in die vulkaan uitmekaargeblaas word deur die vinnige uitsetting van warm vulkaniese gasse. Magma ontplof as die opgeloste gasse daarin ontsnap wanneer die druk verminder terwyl dit na die oppervlak beweeg. Dié gewelddadige ontploffings skep deeltjies materiaal wat dan van die vulkaan weggeskiet word. Soliede deeltjies kleiner as 2 mm breed (so groot soos sandkorrels of kleiner) word vulkaniese as genoem.[25]

Tefra en ander vergruisde vulkaniese materiaal maak 'n groter deel van die volume van baie vulkane uit as die lawa. Dit kon tot 'n derde van alle sediment in die geologiese rekord gevorm het. Die skepping van groot hoeveelhede tefra is kenmerkend van ontploffende vulkanisme.[36]

Soorte vulkaanuitbarstings

wysig
'n Hawaise uitbarsting: 1. aspluim, 2. lawafontein 3. krater, 4. lawameer, 5. rookgat, 6. lawavloei, 7. lae lawa en as, 8. stratum, 9. intrusieplaat, 10. magmabuis, 11. magmakamer, 12. intrusiegang
'n Pliniese uitbarsting: 1: aspluim, 2: magmabuis, 3: neerstorting van vulkaanas, 4: lae lawa en as, 5: stratum, 6: magmakamer.

Uitbarstingsmetodes word breedweg ingedeel in magmatiese, freatomagmatiese en freatiese uitbarstings.[37]

Magmatiese uitbarstings

wysig

Magmatiese uitbarstings word hoofsaaklik aangedryf deur gasvrystelling vanweë dekompressie.[37] Magma wat nie baie taai is nie en dus min gas bevat, veroorsaak bedaarde uitvloeiings. Taai magma met 'n groot hoeveelheid gas veroorsaak gewelddadige, ontploffende uitbarstings.

  • Hawaise uitbarstings (genoem na die vulkane van Hawaii) is tipiese uitbarstings van mafiese lawa met relatief min gas. Dit is meestal uitvloeiings wat plaaslike vuurfonteine en hoogs vloeibare lawastrome veroorsaak, maar relatief min tefra.
  • Stromboliese uitbarstings (genoem na die Sisiliaanse vulkaan Stromboli) word gekenmerk deur matige taaiheid en gereelde, maar kort uitbarstings wat kolomme van honderde meters hoog kan skep. Hulle hoofproduk is vulkaanslak.
  • Vulcano-uitbarstings (genoem na Vulcano) word gekenmerk deur 'n nog groter taaiheid en gedeeltelike kristalvorming van magma, wat dikwels 'n gematigde samestelling het. Uitbarstings is kort en duur gewoonlik 'n paar uur; dit vernietig 'n sentrale koepel en skiet groot lawablokke en -bomme uit. Dit word gevolg deur 'n uitvloeiingsfase, wat die sentrale koepel weer opbou.
  • Peléaanse uitbarstings (genoem na die berg Pelée) is nog gewelddadiger en word gekenmerk deur koepelopbouing en -instorting wat verskeie soorte piroklastiese strome veroorsaak.
  • Pliniese uitbarstings (genoem na Plinius die jongere) is die heel gewelddadigste van alle uitbarstings. Hulle word gekenmerk deur volgehoue hoë uitbarstingskolomme, waarvan die instorting katastrofiese piroklastiese strome teweegbring. Plinius die jongere het die Pliniese uitbarsting van die berg Vesuvius in 79 n.C. beskryf.

Die intensiteit van ontploffende vulkanisme word uitgedruk met die Vulkaaneksplosiwiteitsindeks (VEI), wat wissel van 0 vir 'n Hawaise uitbarsting tot 8 vir supervulkaniese uitbarstings.[38]

Freatomagmatiese uitbarstings

wysig

'n Freatomagmatiese uitbarsting word gekenmerk deur 'n wisselwerking tussen stygende magma en grondwater. Hulle word aangedryf deur die vinnige opbou van druk in die superverhitte grondwater.

Freatiese uitbarstings

wysig

'n Freatiese uitbarsting word gekenmerk deur die superverhitting van grondwater wat in verbinding kom met warm rots of magma. Hulle word onderskei van freatomagmatiese uitbarstings deurdat die uitgeworpe materiaal net rots van die omgewing is; geen magma word uitgewerp nie.

Vulkaanaktiwiteit

wysig

Vulkane se aktiwiteitsvlak wissel in 'n groot mate. Sommige bars 'n paar keer per jaar uit en ander een keer elke paar duisend jaar.[39] Vulkane word informeel beskryf as aktief, rustend of uitgedoof, maar dié terme is nie goed gedefinieer nie.[40]

Aktief

wysig

Daar is geen konsensus onder vulkanoloë oor hoe om 'n "aktiewe" vulkaan te definieer nie. Die lewensduur van 'n vulkaan kan wissel van maande tot miljoene jare en dit maak so 'n onderskeid waardeloos wanneer dit vergelyk word met die lewensduur van mense of selfs beskawings. Baie van die Aarde se vulkane het byvoorbeeld in die afgelope paar duisend jaar tientalle kere uitgebars, maar toon nie tans enige tekens van uitbarsting nie. As die lang lewensduur van sulke vulkane in ag geneem word, is hulle beslis aktief. In vergelyking met menselewens is hulle egter nie.

Rustend

wysig
Narcondameiland in Indië word as 'n rustende vulkaan geklassifiseer.

Dit is moeilik om 'n uitgedoofde vulkaan van 'n rustende een te onderskei. Rustende vulkane is dié wat in duisende jare nie uitgebars het nie, maar waarskynlik in die toekoms weer sal uitbars.[41][42] Vulkane word gewoonlik as uitgedoof beskou as daar geen geskrewe rekords van sy aktiwiteit is nie. Vulkane kan egter baie lank rustend wees. Yellowstone het byvoorbeeld 'n uitbarstingsperiode van sowat 700 000 jaar, en Toba sowat 380 000 jaar.[43]

Romeinse skrywers het Vesuvius beskryf as bedek met tuine en wingerde voordat hy in 79 n.C. uitgebars en die stede Herculaneum en Pompeji verwoes het. Voor sy katastrofiese uitbarsting in 1991 was die berg Pinatubo in die Filippyne 'n onopvallende vulkaan wat onder die meeste mense van die omringende gebiede onbekend was. Nog 'n voorbeeld is die Soufrière Hills-vulkaan op die eiland Montserrat, wat glo uitgedoof was voordat dit in 1995 weer uitgebars en die hoofstad, Plymouth, in 'n spookdorp verander het.

Uitgedoof

wysig
Die Fourpeaked-vulkaan in Alaska in September 2006, nadat geglo is dit is al 10 000 jaar lank uitgedoof.
Die uitbarsting van die berg Rinjani in Indonesië in 1994.

Uitgedoofde vulkane is dié wat volgens wetenskaplikes onwaarskynlik weer sal uitbars omdat die vulkaan nie meer 'n magmavoorraad het nie. Voorbeelde van uitgedoofde vulkane is baie in Hawaii in die Stille Oseaan, Hohentwiel in Duitsland, Shiprock in Nieu-Meksiko, Zuidwalvulkaan in Nederland en baie vulkane in Italië. Die Edinburg-kasteel in Skotland is op 'n uitgedoofde vulkaan, Arthur's Seat, geleë. Of 'n vulkaan werklik uitgedoof is, is dikwels moeilik om te bepaal. Aangesien die kalderas van "supervulkane" uitbarstingsperiodes van miljoene jare kan hê, kan 'n kaldera wat nie in tienduisende jare uitgebars het nie, as rustend beskou word eerder as uitgedoof.

Vulkaanwaarskuwingsvlak

wysig

Die bogenoemde drie gewilde klassifikasies van vulkane kan subjektief wees en sommige vulkane wat as uitgedoof beskou is, kan weer uitbars. Om te voorkom dat mense valslik glo hulle is veilig wanneer hulle op of naby 'n vulkaan woon, het lande nuwe klassifikasies aanvaar om die verskillende vlakke en fases van vulkaniese aktiwiteit te beskryf.[44] In sommige waarskuwingstelsels word syfers of kleure gebruik om tussen die fases te onderskei. In ander stelsels word kleure en woorde gebruik. Sommige stelslels gebruik 'n kombinasie van die twee.

Dekadevulkane

wysig
Korjakski toring hoog bo Petropawlofsk-Kamtsjatski op die Kamtsjatka-skiereiland uit, Russiese Verre Ooste.

Die Dekadevulkane is 16 vulkane wat deur die International Association of Volcanology and Chemistry of the Earth's Interior (IAVCEI) geïdentifiseer is as waardevol om te bestudeer vanweë hulle geskiedenis van groot, verwoestende uitbarstings en hulle nabyheid aan dig bevolkte gebiede. Hulle word "Dekadevulkane" genoem omdat die projek in die 1990's begin is as deel van die VN-geborgde Internasionale Dekade vir die Verkleining van Natuurrrampe. Die 16 huidige Dekadevulkane is:

Vulkane en die mens

wysig
'n Skets van 'n vulkaan se inspuiting van aërosols en gasse.
Grafiek wat wys hoe die sonstraling van 1958–2008 afgeneem het ná groot vulkaanuitbarstings.
Die konsentrasie van swaeldioksied bo die Sierra Negra-vulkaan Galápagos-eilande, tydens 'n uitbarsting in Oktober 2005.

Vulkaanuitbarstings hou 'n groot gevaar vir die menslike beskawing in. Vulkaanaktiwiteit het die mens egter ook al van belangrike hulpbronne voorsien.

Gevare

wysig

Daar is baie verskillende soorte uitbarstings en verwante aktiwiteit: freatiese uitbarstings (deur stoom aangedryf), ontploffende uitbarstings van lawa met baie silika, uitvloeiende uitbarstings van lawa met min silika, piroklastiese strome, lahars (moderstrome), die vrystelling van koolstofdioksied, en baie meer. Elk van hierdie aktiwiteite kan 'n gevaar vir die mens inhou. Aardbewings, warmbronne, rookgate, modderpoele en geisers gaan dikwels met vulkaniese aktiwiteit gepaard.

Vulkaniese gasse kan die stratosfeer bereik, waar hulle swaelsuuraërosols vorm wat sonstraling kan weerkaats en oppervlaktemperature aansienlik kan verlaag.[45] Swaeldioksied van die uitbarsting van Huaynaputina in Peru kon die Russiese hongersnood van 1601-'03 veroorsaak het.[46] Chemiese reaksies van sulfaataërosols in die stratosfeer kan ook die osoonlaag beskadig, en sure soos waterstofchloried (HCl) en waterstoffluoried (HF) kan op die grond val as suurreën.

Ontploffende uitbarstings stel die kweekhuisgas koolstofdioksied vry en verskaf dus 'n groot bron van koolstof vir stofkringlope.[47]

As wat in 'n uitbarsting die lug ingeskiet word, kan 'n gevaar vir vliegtuie inhou, veral straalvliegtuie: Die deeltjies kan deur die hoë werkingstemperatuur gesmelt word; die gesmelte deeltjies kan dan aan die turbineskroewe vasklou, hulle vorm verander en die werking van die turbine beïnvloed. Dit kan groot ontwrigtings vir die lugvaart inhou.

Voorbeelde van die Rapa Nui se moai-beelde.

'n Vulkaanwinter het vermoedelik sowat 70 000 jaar gelede voorgekom ná die superuitbarsting van Toba in Indonesië.[48] Dit kon 'n bevolkingsbottelnek veroorsaak het wat die genetiese erfenis van alle mense wat vandag lewe, kon beïnvloed het.[49] Vulkaniese uitbarstings kon tot groot uitsterwings gelei het, soos die Ordovisium-Siluur-, die Perm-Trias- en die Laat-Devoon-uitwissing.[50]

Die uitbarsting in 1815 van die berg Tambora in Indonesië het wêreldwye klimaatsafwykings veroorsaak wat bekend geword het as "die jaar sonder 'n somer" vanweë die uitwerking op die Noord-Amerikaanse en Europese weer.[51] Die yskoue winter van 1740-'41, wat tot 'n hongersnood in Noord-Europa gelei het, kon ook deur 'n vulkaniese uitbarsting veroorsaak gewees het.[52]

Voordele

wysig

Hoewel uitbarstings groot gevare vir die mens inhou, het vulkaniese aktiwiteite al belangrike ekonomiese bronne geskep.

Vulkaniese as en verweerde basalt vorm van die vrugbaarste grondsoorte in die wêreld wat ryk is aan voedingsbronne soos yster, magnesium, kalium, kalsium en fosfor.[53]

Tuf wat van vulkaniese as gevorm het, is 'n relatief sagte klip en word sedert antieke tye vir bouwerk gebruik.[54][55] Die Romeine het dikwels tuf, wat volop in Italië is, vir bouwerk gebruik.[56] Die Rapa Nui-volk het tuf gebruik vir die meeste van die moai-standbeelde op Paaseiland.[57]

Vulkaniese aktiwiteit is verantwoordelik vir kosbare mineralebronne, soos metaalerts.[53]

Vulkane op ander hemelliggame

wysig

Die Aarde se Maan het geen groot vulkane en op die oomblik geen bekende vulkaniese aktiwiteit nie.[58] Die Maan het egter baie vulkaniese eienskappe, soos maria (die donkerder kolle op die Maan), groewe en koepels.

Venus het 'n oppervlak van 90% basalt, wat daarop dui dat vulkanisme 'n groot rol gespeel het in die vorming van sy oppervlak. Die hele planeet se oppervlak is dalk sowat 500 miljoen jaar gelede heeltemal oorbedek,[59] volgens wat wetenskaplikes kan aflei van die digtheid van impakkraters op die oppervlak. Lawastrome is algemeen en vorme van vulkanisme wat nie op die Aarde aangetref word nie, kom ook voor.

Die Tvashtar-vulkaan skiet 'n pluim 330 km bo die oppervlak van Jupiter se maan Io uit.

Veranderinge in die planeet se atmosfeer en waarnemings van weerlig is al toegeskryf aan voortdurende vulkaniese uitbarstings, hoewel daar geen bevestiging is van of Venus nog vulkanies aktief is of nie. Radartoetse deur die Magellanruimtetuig het bewyse onthul van onlangse vulkaniese aktiwiteit by Venus se hoogste vulkaan, Maat Mons, in die vorm van asstrome naby die kruin en aan die noordelike flank.[60] Die inligting word egter betwis.[61]

Olympus Mons op Mars is sover bekend die hoogste berg in die Sonnestelsel.

Daar is verskeie uitgedoofde vulkane op Mars. Van hulle is enorme skildvulkane wat baie groter is as enigiets op Aarde. Hulle sluit in Arsia Mons, Ascraeus Mons, Hecates Tholus, Olympus Mons en Pavonis Mons. Hierdie vulkane is al baie miljoene jare uitgedoof,[62] maar die Mars Express-ruimtetuig het bewyse ontdek dat vulkaniese aktiwiteit in die onlangse verlede op Mars kon voorgekom het.[62]

Jupiter se maan Io is die vulkanies aktiefste voorwerp in die Sonnestelsel vanweë die invloed van Jupiter se getykragte. Dit is bedek met vulkane wat swael, swaeldioksied en silikaatrots uitskiet. As gevolg hiervan word Io se oppervlak gereeld oorbedek. Sy lawas is sover bekend die warmste in die Sonnestelsel, met temperature van hoër as 1 800 K (1 500 °C). In Februarie 2001 het die grootste aangetekende vulkaniese uitbarsting in die Sonnestelsel op Io voorgekom.[63] Europa, die kleinste van Jupiter se Mane van Galilei, het blykbaar ook 'n aktiewe vulkaanstelsel, hoewel dit heeltemal in die vorm van water is wat op die koue oppervlak tot ys vries. Dié proses is bekend as kriovulkanisme en kom blykbaar die algemeenste voor op die mane van die buitenste planete.

In 1989 het Voyager 2 kriovulkane op Triton, 'n maan van Neptunus, waargeneem. In 2005 het Cassini-Huygens fonteine van bevrore deeltjies afgeneem wat op Enkelados, 'n maan van Saturnus, uitgewerp word.[64] Die ejekta kan bestaan uit samestelling van water, vloeibare stikstof, ammoniak, stof of metaan. Cassini-Huygens het ook bewyse gevind van 'n metaanspuwende kriovulkaan op Saturnus se maan Titaan, wat vermoedelik 'n aansienlike bron van die metaan is wat in sy atmosfeer aangetref word.[65] Daar is 'n teorie dat kriovulkanisme ook op die Kuipergordelvoorwerp Quaoar voorkom.

'n Studie in 2010 van die eksoplaneet COROT-7b, wat in 2009 met die oorgangsmetode ontdek is, dui daarop dat getyverhitting van die moederster baie na aan die planeet en naburige planete intense vulkaniese aktiwiteit kan genereer soos wat op Io aangetref word.[66]

Verwysings

wysig
  1. NSTA Press / Archive.Org (2007). "Earthquakes, Volcanoes, and Tsunamis" (PDF). Resources for Environmental Literacy. Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 14 Julie 2014. Besoek op 22 April 2014.
  2. Davis A. Young (Januarie 2016). "Volcano". Mind over Magma: The Story of Igneous Petrology (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 27 September 2017. Besoek op 11 Januarie 2016.
  3. Schmincke, Hans-Ulrich (2003). Volcanism. Berlyn: Springer. pp. 13–20. ISBN 978-3-540-43650-8.
  4. Schmincke 2003, pp. 17-18, 276.
  5. Schmincke 2003, pp. 18,113-126.
  6. Schmincke 2003, pp. 18,106-107.
  7. Foulger, Gillian R. (2010). Plates vs. Plumes: A Geological Controversy. Wiley-Blackwell. ISBN 978-1-4051-6148-0.
  8. Philpotts, Anthony R.; Ague, Jay J. (2009). Principles of igneous and metamorphic petrology (2de uitg.). Cambridge, VK: Cambridge University Press. pp. 380–384, 390. ISBN 978-0-521-88006-0.
  9. Schmincke 2003, pp. 108-110.
  10. Philpotts & Ague 2009, pp. 390-394,396-397.
  11. Wood, C.A. (1979). "Cindercones on Earth, Moon and Mars". Lunar and Planetary Science. X: 1370–1372. Bibcode:1979LPI....10.1370W.
  12. Meresse, S.; Costard, F.O.; Mangold, N.; Masson, P.; Neukum, G. (2008). "Formation and evolution of the chaotic terrains by subsidence and magmatism: Hydraotes Chaos, Mars". Icarus. 194 (2): 487. Bibcode:2008Icar..194..487M. doi:10.1016/j.icarus.2007.10.023.
  13. Brož, P.; Hauber, E. (2012). "A unique volcanic field in Tharsis, Mars: Pyroclastic cones as evidence for explosive eruptions". Icarus. 218 (1): 88. Bibcode:2012Icar..218...88B. doi:10.1016/j.icarus.2011.11.030.
  14. Lawrence, S.J.; Stopar, J.D.; Hawke, B.R.; Greenhagen, B.T.; Cahill, J.T.S.; Bandfield, J.L.; Jolliff, B.L.; Denevi, B.W.; Robinson, M.S.; Glotch, T.D.; Bussey, D.B.J.; Spudis, P.D.; Giguere, T.A.; Garry, W.B. (2013). "LRO observations of morphology and surface roughness of volcanic cones and lobate lava flows in the Marius Hills". Journal of Geophysical Research: Planets. 118 (4): 615. Bibcode:2013JGRE..118..615L. doi:10.1002/jgre.20060.
  15. Lockwood, John P.; Hazlett, Richard W. (2010). Volcanoes: Global Perspectives. p. 552. ISBN 978-1-4051-6250-0.
  16. Berger, Melvin, Gilda Berger, and Higgins Bond. "Volcanoes-why and how ." Why do volcanoes blow their tops?: Questions and answers about volcanoes and earthquakes. New York: Scholastic, 1999. 7. Print.
  17. "Questions About Supervolcanoes". Volcanic Hazards Program. USGS Yellowstone Volcano Observatory. 21 Augustus 2015. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 3 Julie 2017. Besoek op 22 Augustus 2017.
  18. Philpotts & Ague 2009, p. 77.
  19. Francis, Peter (1983). "Giant Volcanic Calderas". Scientific American. 248 (6): 60–73. Bibcode:1983SciAm.248f..60F. doi:10.1038/scientificamerican0683-60. JSTOR 24968920.
  20. Venzke, E., red. (2013). "Holocene Volcano List". Global Volcanism Program Volcanoes of the World (version 4.9.1). Smithsonian Institution. Besoek op 18 November 2020.
  21. Venzke, E., red. (2013). "How many active volcanoes are there?". Global Volcanism Program Volcanoes of the World (version 4.9.1). Smithsonian Institution. Besoek op 18 November 2020.
  22. Ashley Strickland (10 Januarie 2020). "Origin of mystery humming noises heard around the world, uncovered". CNN (in Engels).
  23. Mazzini, Adriano; Etiope, Giuseppe (Mei 2017). "Mud volcanism: An updated review". Earth-Science Reviews. 168: 81–112. Bibcode:2017ESRv..168...81M. doi:10.1016/j.earscirev.2017.03.001. hdl:10852/61234.
  24. Kioka, Arata; Ashi, Juichiro (28 Oktober 2015). "Episodic massive mud eruptions from submarine mud volcanoes examined through topographical signatures". Geophysical Research Letters. 42 (20): 8406–8414. Bibcode:2015GeoRL..42.8406K. doi:10.1002/2015GL065713.
  25. 25,0 25,1 Schmidt, R. (1981). "Descriptive nomenclature and classification of pyroclastic deposits and fragments: recommendations of the IUGS Subcommission on the Systematics of Igneous Rocks". Geology. 9: 41–43. doi:10.1007/BF01822152. S2CID 128375559. Besoek op 27 September 2020.
  26. Pedone, M.; Aiuppa, A.; Giudice, G.; Grassa, F.; Francofonte, V.; Bergsson, B.; Ilyinskaya, E. (2014). "Tunable diode laser measurements of hydrothermal/volcanic CO2 and implications for the global CO2 budget". Solid Earth. 5 (2): 1209–1221. Bibcode:2014SolE....5.1209P. doi:10.5194/se-5-1209-2014.
  27. Casq, R.A.F.; Wright, J.V. (1987). Volcanic Successions. Unwin Hyman Inc. p. 528. ISBN 978-0-04-552022-0.
  28. Philpotts & Ague 2009, p. 70-72.
  29. Fisher, Richard V.; Schmincke, H.-U. (1984). Pyroclastic rocks. Berlin: Springer-Verlag. pp. 210–211. ISBN 3-540-12756-9.
  30. Philpotts & Ague 2009, p. 73-77.
  31. Philpotts & Ague 2009, pp. 15-16.
  32. Schmincke 2003, p. 143.
  33. Philpotts & Ague 2009, p. 377.
  34. Philpotts & Ague 2009, p. 16.
  35. Philpotts & Ague 2009, p. 24.
  36. Fisher & Schmincke 1984, p. 89.
  37. 37,0 37,1 Heiken, G.; Wohletz, K. Volcanic Ash. University of California Press. p. 246.
  38. Newhall, Christopher G.; Self, Stephen (1982). "The Volcanic Explosivity Index (VEI): An Estimate of Explosive Magnitude for Historical Volcanism" (PDF). Journal of Geophysical Research. 87 (C2): 1231–1238. Bibcode:1982JGR....87.1231N. doi:10.1029/JC087iC02p01231. Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 13 Desember 2013.
  39. Martí Molist, Joan (6 September 2017). "Assessing Volcanic Hazard". 1. doi:10.1093/oxfordhb/9780190699420.013.32. {{cite journal}}: Cite journal requires |journal= (hulp)
  40. Pariona, Amber. "Difference Between an Active, Dormant, and Extinct Volcano". WorldAtlas.com. Besoek op 27 November 2020.
  41. Nelson, Stephen A. (4 Oktober 2016). "Volcanic Hazards & Prediction of Volcanic Eruptions". Tulane University. Besoek op 5 September 2018.
  42. "How is a volcano defined as being active, dormant, or extinct?". Volcano World. Oregon State University. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 12 Januarie 2013. Besoek op 5 September 2018.
  43. Chesner, C.A.; Rose, J.A.; Deino, W.I.; Drake, R.; Westgate, A. (Maart 1991). "Eruptive History of Earth's Largest Quaternary caldera (Toba, Indonesia) Clarified" (PDF). Geology. 19 (3): 200–203. Bibcode:1991Geo....19..200C. doi:10.1130/0091-7613(1991)019<0200:EHOESL>2.3.CO;2. Besoek op 20 Januarie 2010.
  44. "Volcanic Alert Levels of Various Countries". Volcanolive.com. Besoek op 22 Augustus 2011.
  45. Miles, M.G.; Grainger, R.G.; Highwood, E.J. (2004). "The significance of volcanic eruption strength and frequency for climate" (PDF). Quarterly Journal of the Royal Meteorological Society. 130 (602): 2361–2376. Bibcode:2004QJRMS.130.2361M. doi:10.1256/qj.03.60.
  46. University of California – Davis (25 April 2008). "Volcanic Eruption Of 1600 Caused Global Disruption". ScienceDaily.
  47. McGee, Kenneth A.; Doukas, Michael P.; Kessler, Richard; Gerlach, Terrence M. (Mei 1997). "Impacts of Volcanic Gases on Climate, the Environment, and People". United States Geological Survey. Besoek op 9 Augustus 2014.
  48. "Supervolcano eruption – in Sumatra – deforested India 73,000 years ago". ScienceDaily. 24 November 2009.
  49. "When humans faced extinction". BBC. 9 Junie 2003. Besoek op 5 Januarie 2007.
  50. O'Hanlon, Larry (14 Maart 2005). "Yellowstone's Super Sister". Discovery Channel. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 Maart 2005.
  51. Volcanoes in human history: the far-reaching effects of major eruptions. Jelle Zeilinga de Boer, Donald Theodore Sanders (2002). Princeton University Press. p. 155. ISBN 0-691-05081-3
  52. Ó Gráda, Cormac (6 Februarie 2009). "Famine: A Short History". Princeton University Press. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 12 Januarie 2016.
  53. 53,0 53,1 Kiprop, Joseph (18 Januarie 2019). "Why Is Volcanic Soil Fertile?". WorldAtlas.com. Besoek op 27 November 2020.
  54. Marcari, G., G. Fabbrocino, en G. Manfredi. "Shear seismic capacity of tuff masonry panels in heritage constructions." Structural Studies, Repairs and Maintenance of Heritage Architecture X 95 (2007): 73.
  55. Dolan, S.G.; Cates, K.M.; Conrad, C.N.; Copeland, S.R. (14 Maart 2019). "Home Away from Home: Ancestral Pueblo Fieldhouses in the Northern Rio Grande". Lanl-Ur. 19–21132: 96. Besoek op 29 September 2020.
  56. Jackson, M. D.; Marra, F.; Hay, R. L.; Cawood, C.; Winkler, E. M. (2005). "The Judicious Selection and Preservation of Tuff and Travertine Building Stone in Ancient Rome*". Archaeometry. 47 (3): 485–510. doi:10.1111/j.1475-4754.2005.00215.x.
  57. Richards, Colin. 2016. "Making Moai: Reconsidering Concepts of Risk in the Construction of Megalithic Architecture in Rapa Nui (Easter Island)". Rapa Nui–Easter Island: Cultural and Historical Perspectives, pp.150-151
  58. Wieczorek, Mark A.; Jolliff, Bradley L.; Khan, Amir (1 Januarie 2006). "The constitution and structure of the lunar interior". Reviews in Mineralogy and Geochemistry. 60 (1): 221–364. Bibcode:2006RvMG...60..221W. doi:10.2138/rmg.2006.60.3. S2CID 130734866.
  59. Bindschadler, D.L. (1995). "Magellan: A new view of Venus' geology and geophysics". Reviews of Geophysics. 33 (S1): 459. Bibcode:1995RvGeo..33S.459B. doi:10.1029/95RG00281.
  60. Robinson, Cordula A.; Thornhill, Gill D.; Parfitt, Elisabeth A. (1995). "Large-scale volcanic activity at Maat Mons: Can this explain fluctuations in atmospheric chemistry observed by Pioneer Venus?". Journal of Geophysical Research. 100 (E6): 11755. Bibcode:1995JGR...10011755R. doi:10.1029/95JE00147.
  61. Mouginis-Mark, Peter J. (Oktober 2016). "Geomorphology and volcanology of Maat Mons, Venus". Icarus. 277: 433–441. Bibcode:2016Icar..277..433M. doi:10.1016/j.icarus.2016.05.022.
  62. 62,0 62,1 "Glacial, volcanic and fluvial activity on Mars: latest images". ESA. 25 Februarie 2005. Besoek op 17 Augustus 2006.
  63. "Exceptionally bright eruption on Io rivals largest in solar system". W.M. Keck Observatory. 13 November 2002. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 Augustus 2017. Besoek op 20 Oktober 2021.
  64. "Cassini Finds an Atmosphere on Saturn's Moon Enceladus". PPARC. 16 Maart 2005. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 10 Maart 2007. Besoek op 4 Julie 2014.
  65. "Hydrocarbon volcano discovered on Titan". Newscientist.com. 8 Junie 2005. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 19 September 2007. Besoek op 24 Oktober 2010.
  66. Jaggard, Victoria (5 Februarie 2010). ""Super Earth" May Really Be New Planet Type: Super-Io". National Geographic web site daily news. National Geographic Society. Besoek op 11 Maart 2010.

Nog leesstof

wysig

Skakels

wysig