Theia (planeet)

Theia is ’n hipotetiese antieke planeet in die vroeë Sonnestelsel wat, volgens die reuse-impakhipotese, sowat 4,5 miljard jaar gelede teen ’n ander planeet, Gaia (die vroeë Aarde), gebots het.[1][2] Volgens dié hipotese was Theia ’n trojaan van die Aarde omtrent so groot soos Mars, met ’n deursnee van sowat 6 102 km. Die geoloog Edward Young van die Universiteit van Kalifornië, Los Angeles, het op grond van rotse wat in die Apollo-sendings 12, 15 en 17 versamel is, voorgestel Theia het trompop met die Aarde gebots,[3] in teenstelling met die vorige teorie dat die Aarde net skrams getref is. Modelle van die botsing wys Theia se puin het om die Aarde versamel en die vroeë Maan gevorm.

Sommige wetenskaplikes glo die materiaal wat tydens die botsing die lug ingeskiet is, het aanvanklik twee mane gevorm[4][5] wat later saamgepak en die Maan gevorm het soos ons dit vandag ken. Die Theia-hipotese verduidelik ook hoekom die Aarde se kern groter is as wat verwag kan word van ’n liggaam met sy grootte: Volgens die hipotese het Theia se kors en mantel met die Aarde s’n versmelt.[6]

Naam wysig

’n Animasie van die hipotetiese botsing tussen Theia en die Aarde.

Theia is genoem na die Titaan Theia, wat in die Griekse mitologie die ma was van Selene, die maangodin.[7] Dit loop hand-aan-hand met die idee dat die planeet Theia se botsing met die Aarde die Maan geskep het.[8]

Botsing wysig

Volgens die reuse-impakhipotese het Theia saam met die proto-Aarde om die Son gewentel, by een van die Aarde-Son se twee stabiele Lagrange-punte, L4 of L5, waar dit geneig sou gewees het om te bly. In dié geval sou dit gegroei het tot moontlik die grootte van Mars. Die swaartekraginvloed van Venus en/of Jupiter het Theia eindelik versteur en dit op ’n koers geplaas waar dit teen die Aarde gebots het.[9]

Volgens die oorspronklike hipotese het Theia die Aarde skrams getref[10] en stukke lawa van albei vormende planete die lug ingeskiet. Dié stukke het afgekoel en óf een Maan gevorm óf twee liggame wat eindelik versmelt het om die Maan te vorm.[4] Daarvolgens sou ’n trompopbotsing gelei het tot die vernietiging van albei planete en ’n soort tweede asteroïdegordel tussen die wentelbane van Venus en Mars geskep het.

Bewyse wat in Januarie 2016 gepubliseer is, toon die moontlikheid dat die liggame wel trompop gebots het en dat Theia se oorblyfsels in beide die Aarde en die Maan gevind kan word.[11] Die blyk veral uit die δ41K-isotoopverhouding.

Hipoteses wysig

Van die begin van die moderne sterrekunde af was daar minstens vier hipoteses oor hoe die Maan ontstaan het:

  1. ’n Enkele liggaam het in die Aarde en die Maan verdeel;
  2. Die Maan is deur die Aarde se swaartekrag van buite in ’n wentelbaan vasgevang (nes baie mane van die buiteplanete);
  3. Die Aarde en Maan het terselfdertyd gevorm uit die Son se akkresieskyf;
  4. Theia het met die Aarde gebots.

Die maanrotsmonsters wat deur Apollo-ruimtevaarders teruggebring is, het ’n baie soortgelyke samestelling as die aardkors en is dus waarskynlik in ’n gewelddadige voorval uit die Aarde geruk.[3][12][13]

Verwysings wysig

  1. Wolpert, Stuart. "UCLA study shows the moon is older than previously thought". scitechdaily.com (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 13 Mei 2020. Besoek op 14 Januarie 2017.
  2. "The Theia Hypothesis: New Evidence Emerges that Earth and Moon Were Once the Same" (in Engels). The Daily Galaxy. 5 Julie 2007. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 16 Junie 2018. Besoek op 13 November 2013.
  3. 3,0 3,1 Nace, Trevor (30 Januarie 2016). "New Evidence For 4.5 Billion Year Old Impact Formed Our Moon" (in Engels). Forbes. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 8 Mei 2020. Besoek op 30 Januarie 2016.
  4. 4,0 4,1 Jutzi, M.; Asphaug, E. (2011). "Forming the lunar farside highlands by accretion of a companion moon". Nature. 476 (7358): 69–72. Bibcode:2011Natur.476...69J. doi:10.1038/nature10289. PMID 21814278.
  5. "Faceoff! The Moon's oddly different sides", Astronomy, Augustus 2014, 44–49.
  6. "A New Model for the Origin of the Moon". SETI Institute.
  7. Murdin, Paul (2016). Rock Legends: The Asteroids and Their Discoverers. Springer. p. 178. doi:10.1007/978-3-319-31836-3. ISBN 9783319318363.
  8. https://www.etymonline.com/word/Selene
  9. "STEREO Hunts for Remains of an Ancient Planet near Earth". Nasa. 9 April 2009. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 13 November 2013. Besoek op 13 November 2013.
  10. Reufer, Andreas; Meier, Matthias M. M.; Benz, Willy; Wieler, Rainer (2012). "A hit-and-run giant impact scenario". Icarus. 221 (1): 296–299. arXiv:1207.5224. Bibcode:2012Icar..221..296R. doi:10.1016/j.icarus.2012.07.021.
  11. Wolpert, Stuart (28 Januarie 2016). "Moon was produced by a head-on collision between Earth and a forming planet". UCLA newsroom (in Engels). UCLA. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 24 November 2019. Besoek op 8 Julie 2018.
  12. Herwartz, D.; Pack, A.; Friedrichs, B.; Bischoff, A. (2014). "Identification of the giant impactor Theia in lunar rocks". Science. 344 (6188): 1146–1150. Bibcode:2014Sci...344.1146H. doi:10.1126/science.1251117. PMID 24904162.
  13. Meier, M. M. M.; Reufer, A.; Wieler, R. (2014). "On the origin and composition of Theia: Constraints from new models of the Giant Impact". Icarus. 242: 316–328. arXiv:1410.3819. Bibcode:2014Icar..242..316M. doi:10.1016/j.icarus.2014.08.003.

Eksterne skakels wysig