Garmisch-Partenkirchen

Garmisch-Partenkirchen is 'n markdorp en die administratiewe sentrum van die gelyknamige distrik in die Suid-Duitse deelstaat Beiere. Garmisch-Partenkirchen, wat amptelik as herstellingsoord erken is, is daarnaas ook die belangrikste nedersetting in die streek Werdenfelserland. Ondanks sy bevolking van meer as 27 000 het Garmisch-Partenkirchen nie Duitse stadstatus nie.

Garmisch-Partenkirchen

KaartWapen
Vlag
 LandVlag van Duitsland Duitsland
 Deelstaat Beiere
 Koördinate47°30′N 11°06′O / 47.500°N 11.100°O / 47.500; 11.100
 StigtingVoor 802
 Oppervlakte: 
 - Totaal205,66 vk km
 Hoogte bo seevlak708 m
 Bevolking: 
 - Totaal (31 Desember 2020)27 253
 - Bevolkingsdigtheid133/vk km
 TydsoneUTC +1 (MET)
 - SomertydUTC +2 (MEST)
 BurgemeesterElisabeth Koch (CSU)
 Amptelike webwerfGAP
Die middeleeuse Altes Haus in Partenkirchen se historiese Ludwigstraße
Kleurryke huisfasades in Garmisch

Garmisch en Partenkirchen was oorspronklik twee onafhanklike nedersettings wat saamgesmelt het nadat die Nasionaal-Sosialistiese Duitse Werkersparty (NSdAP) druk op hulle geplaas het om gemeenskaplik as die gasheerdorp van die IVde Olimpiese Winterspele van die jaar 1936 op te tree.

Partenkirchen het sy oorsprong in die Romeinse padstasie Partanum wat langs 'n ou handelsroete geleë was. Die eerste verwysing na Garmisch as nedersetting dateer van 802. In die hoë middeleeue was Partenkirchen vir die Fuggers en Welsers, twee vooraanstaande families van handelaars en koopmanne, 'n belangrike tussenstasie op die handelsroete na Italië tussen Augsburg en Venesië. Garmisch het sy ekonomiese welvaart in dié tyd aan vlotvaarders te danke gehad wat die Loisach-rivier as waterweg gebruik het. Eers in die tyd van die Dertigjarige Oorlog het vir die twee nedersettings 'n periode van ekonomiese agteruitgang begin.

Vandag is Garmisch-Partenkirchen 'n gewilde toeristeoord, veral vanweë sy natuurskoon en die nabygeleë bergpiek Zugspitze, die hoogste punt van Duitsland op 2 962 meter bo seevlak. Argitektoniese besienswaardighede sluit historiese huisfasades met kleurryke muurskilderye (Lüftlmalereien), die Romaans-Gotiese Alte Kirche (Ou Kerkgebou) uit die 13de eeu en die Barokstylkerk St. Martin in Garmisch en die Werdenfelser Heimatmuseum, die middeleeuse Altes Haus en ander historiese geboue in Partenkirchen in.

Eksterne skakels wysig