Durga of Doerga (Sanskrit: दुर्गा Durgā) is ’n belangrike godin in Hindoeïsme. Sy word aanbid as ’n hoofaspek van die moedergodin, Devi, en is een van die gewildste Indiese godinne. Sy word verbind met bewaring, krag, moederskap, vernietiging en oorloë.[3][4] Haar legendes is gesentreer om gevegte teen bose geeste en demone wat vrede, vooruitgang en dharma bedreig.[3]

Durga
Durga verslaan die buffeldemoon, Mahishasura.
Durga verslaan die buffeldemoon, Mahishasura.
Godin van Bewaring, Krag en beskerming; moedergodin
Devanagari दुर्गा
Affiliasie Devi, Adi Parashakti, Chandi, Kaushiki, Kali
Wapen Chakra (diskus), shankha, drietandvurk, pyl en boog, swaard en skild, klok
Metgesel Shiva
Rydier Tier of leeu[1][2]

Geskiedenis wysig

Historici van godsdiens en kuns speur die vroegste uitbeeldings van Durga terug na die seëls van die Indusvalleibeskawing. Daar is egter geen direkte bewyse van haar aanbidding op die terrein gevind nie. Daar is verskeie sinspelings na haar in die vroeë Vediese geskrifte en later maak sy haar verskyning as ’n onafhanklike godin. Volgens Hindoelegendes is Durga deur die gode geskep om die demoon Mahishasura te verslaan, omdat hy net deur ’n vrou doodgemaak kon word. Durga word as ’n moedergodin beskou en word dikwels uitgebeeld as ’n beeldskone vrou wat op ’n tier of leeu ry, met baie arms wat elk ’n wapen vashou en dikwels demone verslaan.[2][5] Sy word algemeen aanbid in Shaktisme, wat veral om godinne gesentreer is, en is ook belangrik in ander denominasies soos Shaivisme en Vaishnavisme. In dié tradisies word sy met ander godinne verbind en geïdentifiseer.[6]

Die twee belangrikste geskrifte van Shaktisme, Devi Mahatmya en Devi-Bhagavata Purana, vereer Devi of Shakti as die oerskepper van die heelal en Brahman (opperste waarheid en werklikheid).[7][8] Hoewel sy in alle groot geskrifte van Hindoeïsme genoem word, is dié twee geskrifte om haar as die primêre godheid gesentreer.[9][10]

Durga het ’n aansienlike gevolg dwarsdeur Indië, Bangladesj en Nepal, veral in die oostelike Indiese deelstate. Sy word aanbid ná oeste in die lente en herfs, veral tydens die feeste Durga Puja en Navratri.[11][12]

Etimologie wysig

Die woord durga beteken letterlik "onoorwinbaar", "onaantasbaar".[13] Dit is verwant aan die woord durg, "fort", "iets wat moeilik verslaan word".

Daar is baie ander name (Navadurga) vir Durga in Shaktisme; nege daarvan is Shailaputri, Brahmacharini, Chandraghanta, Kushmanda, Skandamata, Katyayini, Kaalratri, Mahagauri en Siddhidatri. ’n Lys van 108 name vir haar word opgenoem in die aanbidding van haar en is algemeen bekend as die "Ashtottarshat Namavali van godin Durga".

Verwysings wysig

Bronne wysig

Skakels wysig