Tweede Grensoorlog

Die Tweede Grensoorlog in 1793 was die tweede van nege grensoorloë tussen koloniste van die Kaapkolonie en die Xhosastamme aan die Oosgrens.

Ondanks die verdwyning van die Xhosas tydens die Eerste Grensoorlog uit die Zuurveld het toestande aan die grens onseker gebly, selfs nadat die distrik Graaff-Reinet in 1786 geproklameer is. Die Boere en Xhosas het aangehou om die Zuurveld binne te dring en onwettige ruilhandel en die indiensneming van Xhosa bediendes het voortgegaan. Droogte het die veediefstal en aggressie vererger. Omdat die grensgebiede gelyktydig uit die noorde deur die San en in die ooste deur die Xhosas aangeval is, het die regering - deel op aanbeveling uit die grensgebied, onder meer van Adriaan van Jaarsveld - besluit om sy militêre mag op die San toe te spite terwyl 'n versoeningsbeleid met die Xhosas nagestreef sou word. Dit het tot aansienlik verbittering onder die nedersetters aan die grens gelei, veral omdat onderlinge vyandighede onder die Xhosas in 1790 daartoe gelei het dat die Xhosas die Zuurveld verder binnegedring het. Vyandighede het toegeneem.

In 1793 ontstaan 'n volskaalse oorlog toe grensboere onder leiding van Barend Lindeque, onder meer die wettelose Coenraad de Buys wat voorheen betrokke was by vergrype jeens die Xhosas, besluit het om kragte saam te snoer met Ndlambe, die opperhoof van die westelike Xhosas, in sy stryd teen die Gunukwebe-stamme wat die Zuurveld binnegedring het. Paniek en die ontruiming van plase het gevolg ná Ndlambe se inval en nadat hy vertrek het, het sy vyande in die Suurveld agtergebly. Ondanks die feit dat twee regeringskommando's onder aanvoering van die landdroste van Swellendam en Graaff-Reinet die Xhosagebied so ver as die Buffelsrivier binnegedring en op baie beeste beslag gelê het, kon hulle nie die Suurveld beveilig nie en 'n skietstilstand is in 1793 gesluit. Ontevredenheid aan die Oosgrens oor regeringsbeleid het aanleiding gegee tot opstande op sowel Graaff-Reinet as Swellendam in 1795.

Sien ook wysig

Bronne wysig