Paasfees

Christelike fees, vier die opstanding van Jesus Christus

Paasfees (Grieks: Πάσχα; Latyn: pascha, albei afgelei van Hebreeus: Pesach) is een van die belangrikste gelowige feeste in die Christelike kerklike jaar en word tussen laat Maart tot vroeg April gevier (vroeg April tot vroeg Mei in vroeë Christendom). Paasfees vier die opstanding van Jesus Christus, wat, volgens sy volgelinge, op die derde dag na sy kruisiging uit die dood uit opgestaan het (ongeveer 27 tot 33 n.C.).

16de-eeuse Russies-Ortodokse ikoon van die opstanding van Jesus Christus
Paaslammetjies op 'n historiese Russiese poskaart
'n Paasvuur voor die Fransiskanerkerk te Sanok, Bieszczady, Pole
Die Lam van God oor die portaal van die Lutherse Sint Andreaskerk in Brunswyk, Nedersakse, Duitsland
In die Verenigde Koninkryk en Ierland word die Paasteetafels gedek met 'n ryklik versierde vrugtetert, die simnel cake
President Barack Obama tydens die White House Easter Egg Roll in 2009
Hanácké kraslice, tradisioneel versierde Paaseiers in Tsjeggië

Paasfees verwys ook na 'n seisoen in die kerkjaar, en duur vir vyftig dae, van Paassondag tot Pinksterdag. Dié tradisie van vyftig dae het sy oorspring in die tydperk tussen die Joodse feeste Pesach en Sjavuot. Daarbenewens verwys die Paaskring na een van die belangrikste periode van die liturgiese jaar, wat vanaf Aswoensdag tot Trinitatis, die Sondag ná Pinkster, streek.

Datum en oorsprong wysig

Volgens die ooreenstemmende verhale in die Christelike Griekse Skrifte, of Nuwe Testament van die Bybel, het Jesus van Nasaret (Jesus Christus) op die eerste dag van die Joodse week uit die dood opgestaan (Markus 16:2,[1] Matteus 28:1,[2] Lukas 24:1,[3] Johannes 20:1[4]) – dus op 'n Sondag. Dit was tegelykertyd die "derde dag" ná die kruisiging van Jesus (Lukas 24:7)[5] wat derhalwe op 'n Vrydag – Goeie Vrydag – plaasgevind het.

Die Paasfees en die Joodse Pesach wysig

Die Christelike fees van Jesus Christus se opstanding is onlosmaaklik verbonde aan die Joodse Pesachfees (Aramees: Pasga), veral om chronologiese redes aangesien Jesus volgens die Nuwe Testament en die sinoptiese oorlewering tydens die Pesachfees (of op die vooraand van die fees, aldus die Evangelie volgens Johannes) oorlede is.

Die Christelike tradisie het daarnaas ook inhoudelike elemente van die Joodse Pesachfees oorgeneem en met betrekking tot Jesus geherinterpreteer. Hierdie elemente sluit die simbool van die Paaslam in: Tydens die Pesachfees is lamme in die Israelitiese tempel van Jerusalem geslag. Die Paasfees word daarnaas net soos Pesach as 'n fees van bevryding gevier – die Israeliete het gedurende hul fees die bevryding uit die Egiptiese slawerny gevier, die Christene die opstanding van Jesus uit die dood.

Paasfeesdatums wysig

Die vroegste moontlike termyn volgens die Gregoriaanse kalender is 22 Maart en die laaste moontlike is 25 April. In die Juliaanse kalender, wat veral deur die Oosters-Ortodokse Kerke gebruik word, verskil dié datum effens.

2000–2010
JaarWesteOoste
200023 April30 April
200115 April
200231 Maart5 Mei
200320 April26 April
200411 April
200527 Maart1 Mei
200616 April23 April
20078 April
200823 Maart27 April
200912 April19 April
20104 April
2011–2021
JaarWesteOoste
201124 April
20128 April15 April
201331 Maart5 Mei
201420 April
20155 April12 April
201627 Maart1 Mei
201716 April
20181 April8 April
201921 April28 April
202012 April19 April
20214 April2 Mei
2022–2032
JaarWesteOoste
202217 April24 April
20239 April16 April
202431 Maart5 Mei
202520 April
20265 April12 April
202728 Maart2 Mei
202816 April
20291 April8 April
203021 April28 April
203113 April
203228 Maart2 Mei

Paasgebruike wysig

In die Christelike wêreld het 'n verskeidenheid Paasgebruike ingeburger waarin voor-Christelike rituele en simboliek nuwe Christelike betekenisse gekry het soos die verf van paaseiers (wat Jesus Christus se leë graf versinnebeeld) of die versiering van kerkkansels met Paaslelies as simbole van die opstanding van Jesus Christus. Ook word besondere disse as Paasetes bedien.

Die presiese oorsprong van Paaseiers as Christelike simbole is onbekend. Eiers versinnebeeld in baie gelowe nuwe lewe en hergeboorte. Reeds in antieke Griekeland en Rome is ter geleentheid van lentefeeste eiers versier en aan vriende geskenk. Tempels is eweneens versier met bont eiers.

Gedurende die Middeleeue is leenhere, onderwysers en kerklike ampsdraers dikwels onder meer met eiers betaal. Eiers was een van die kosse wat tydens die Vastyd in die weke voor die Paasfees nie genuttig is nie. Hulle is derhalwe hard gekook om hulle te preserveer. Daardie eiers was geverf of beskilder om hulle van rou eiers te onderskei en eers op Paassondag geëet.[6]

Die wegsteek en soek van paaseiers is veral gewild by kinders, maar ook volwassenes hou daarvan om hul paasgeskenk of -verrassing op Paassondag te gaan soek. Dié tradisie het eers betreklik laat ingeburger geraak – die vroegste skriftelike oorlewerings daarvan, wat in Duitse tekste voorkom, dateer uit die 17de eeu. Om die soek van Paaseiers aantrekliker te maak vir kinders, word die storie van die Paashaas vertel wat die eiers versier en wegsteek. Dié verhaal word vir die eerste keer in die tweede helfte van die 17de eeu gedokumenteer. In sommige streke is Paaseiers ook deur 'n vos, 'n koekoek of 'n haan afgelewer. Met die opkoms van 'n kommersiële speelgoed- en lekkergoedbedryf vanaf die later 19de eeu het die Paashaas die dominante figuur in die volksverhale vir die Paastyd geword. Die haas was egter al sedert die antieke tydperk 'n simbool vir vrugbaarheid en 'n nuwe begin asook die gunstelingdier van 'n verskeidenheid godinne soos Afrodite in antieke Griekeland.

In Skotland, maar ook buite die Withuis in Washington, D.C. word hard gekookte Paaseiers gerol.[7] Dié tradisie word verbind met die verhaal van die engel wat die rots voor Jesus se graf weggerol het.[8]

Die Paaslamtradisie het sy oorsprong in die Joodse Pesach- of Pasgafees wat aan die Israeliete se bevryding deur die uittog uit Egipte herinner. Joodse gelowiges het tradisioneel 'n lam geslag vir hul Pasga-feesmaal. In die Christelike tradisie versinnebeeld die lam die lewe en geestelike reinheid, maar veral Jesus Christus as die Lam van God. Dikwels word in Christelike kerke vaandels met die Paaslam vertoon as simbool vir Jesus se offer en sy oorwinning oor die dood. Al word in sommige Christelike gesinne lamvleis op Paassondag bedien, het ook simboliese Paaslamme, wat van roerdeeg gebak word, gewild geraak.

Paasvure het hul oorsprong in voor-Christelike tradisies waarvolgens ná die koue winter die son met vure terug na die aarde getrek is om weer lig en warmte te lewer en 'n goeie oes te verseker. Vuur het egter ook simboolkrag in die Joods-Christelike geloof soos in die verhaal van Moses en die brandende doringbos, waarin God verskyn, in Eksodus 3:1–12.

Sien ook wysig

Verwysings wysig

  1. (af) "Markus 16:2". Bybel: Markus. Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Besoek op 14 Desember 2022. Die Sondagmôre baie vroeg kom hulle by die graf aan net toe die son opkom.
  2. (af) "Matteus 28,1". Bybel: Matteus. Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Besoek op 14 Desember 2022. Na die sabbatdag, toe dit die Sondagmôre begin lig word, het Maria Magdalena en die ander Maria na die graf gaan kyk.
  3. (af) "Lukas 24:1". Bybel: Lukas. Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Besoek op 14 Desember 2022. Die Sondagmôre baie vroeg het die vroue na die graf toe gegaan met die reukolie wat hulle reggemaak het.
  4. (af) "Johannes 20:1". Bybel: Johannes. Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Besoek op 14 Desember 2022. Die Sondagmôre vroeg, toe dit nog donker was, kom Maria Magdalena by die graf en sien dat die klip van die graf af weggerol is.
  5. (af) "Lukas 24:7". Bybel: Lukas. Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Besoek op 14 Desember 2022. en gesê het: Die Seun van die mens moet uitgelewer word in die hande van sondige mense, gekruisig word, en op die derde dag opstaan."
  6. (de) familie.de: Osterbräuche. Besoek op 1 April 2018
  7. (en) CBS News, 2 April 2018: Trump, first lady host annual White House Easter Egg Roll. Besoek op 2 April 2018
  8. (en) Intangible Cultural Heritage (ICH) Scotland: Egg rolling at Easter. Besoek op 2 April 2018

Eksterne skakels wysig