In meteorologie is 'n sikloon of werwelstorm 'n groot lugmassa wat om 'n sterk kern van lae atmosferiese druk in die rondte draai. Soos van bo af gesien, draai dit in die Suidelike Halfrond kloksgewys (regsom) en in die Noordelike Halfrond antikloksgewys (linksom), die teenoorgestelde as 'n antisikloon.[1][2] Siklone word deur winde gekenmerk wat om 'n laagdruksone na binne spiraal.[3][4]

Orkaan Katrina, 'n seldsame Suid-Atlantiese tropiese sikloon, op 26 Maart 2004 uit die Internasionale Ruimtestasie afgeneem.

Die grootste laagdrukstelsels is poolwerwels en ekstratropiese siklone van die grootste skaal (die sinoptiese skaal). Warmkernsiklone soos tropiese en subtropiese siklone val ook binne die sinoptiese skaal.[5] Mesosiklone, tornado's en stofwarrels lê binne die kleiner mesoskaal.[6]

Siklone is ook al waargeneem op ander planete, soos Mars, Jupiter en Neptunus.[7][8] Siklogenese is die proses waarvolgens siklone vorm en in intensiteit toeneem.[9]

Weerfronte merk die grens tussen twee massas lug met verskillende temperature, humiditeite en digthede, en word verbind met die prominentste meteorologiese verskynsels. Sterk kouefronte het gewoonlik nou bande van donderstorms en strawwe weer, en kan soms voorafgegaan word deur buielyne of droë lyne. Sulke fronte vorm wes van die sirkulasiekern en beweeg gewoonlik van wes na oos; warmfronte vorm oos van die sikloonkern en word gewoonlik voorafgegaan deur gestratifiseerde reën en mis. Warmfronte beweeg poolwaarts voor die pad van die sikloon uit. Geokkludeerde fronte vorm laat in die sikloon se lewensiklus naby die kern en omhul dikwels die kern.

In die Atlantiese Oseaan en die oostelike Stille Oseaan (waaronder die Hawaise eilande) word daar na siklone verwys as orkane; in die westelike Stille Oseaan staan hulle bekende as tifone en in die suidelike Stille Oseaan en in die Indiese Oseaan as siklone.[3][4] Laasgenoemde, die generiese term, dek 'n wye verskeidenheid meteorologiese verskynsels, waaronder tropiese siklone, ekstratropiese siklone en tornado's. Dus gebruik weerkundiges "sikloon" selde sonder om dit te spesifiseer.

Term wysig

Henry Piddington het tussen 1836 en 1855 altesaam 40 artikels oor die tropiese storms van Kalkutta in The Journal of the Asiatic Society gepubliseer. Hy het ook die term "sikloon" geskep, bedoelende soos die opkrulling van 'n slang. In 1842 het hy sy landmerktesis, Laws of the Storms, gepubliseer.[10]

Struktuur wysig

'n Vergelyking tussen ekstratropiese en tropiese siklone.

Daar is 'n paar struktuureienskappe wat alle siklone deel. 'n Sikloon is 'n laagdrukgebied.[11] Die kern, wat dikwels in 'n ontwikkelde sikloon die "oog" genoem word, is die streek met die laagste atmosferiese druk in die gebied.[11] Naby die kern moet die drukgradiëntkrag (van die druk in die middel van die sikloon in vergelyking met die druk buite die sikloon) en die krag van die Corioliseffek in 'n benaderde balans wees, anders sal die sikoon instort as gevolg van die verskil in druk.[12]

Vanweë die Corioliseffek is die vloei om 'n groot sikloon kloksgewys in die Suidelike Halfrond en antikloksgewys in die Noordelike Halfrond.[13] In die Noordelike Halfrond kom die vinnigste winde relatief tot die oppervlak van die Aarde voor aan die oostekant van 'n sikloon wat noordwaarts beweeg, en aan die noordekant van 'n sikloon wat weswaarts beweeg. Die teenoorgestelde gebeur in die Suidelike Halfrond.[14]

In teenstelling met laagdrukgebiede, is die windvloei om 'n hoogdrukstelsel antikloksgewys (antisiklonies) in die Suidelike Halfrond en kloksgewys in die Noordelike Halfrond.

Vorming wysig

Siklogenese is die ontwikkeling of versterking van sikloniese sirkulasie in die atmosfeer.[9] Dit is 'n sambreelterm vir verskeie verskillende prosesse wat almal lei tot die vorming van die een of ander sikloon.[15] Dit kan op verskillende skale gebeur, van die mikro- tot die sinoptiese skaal.

Die aanvanklike ekstratropiese laagdrukgebied vorm waar die rooi kol op die skets is. Dit is gewoonlik loodreg op die blaarvormige wolkformasie wat op 'n satellietfoto gesien kan word in die vroeë stadium van siklogenese. Die ligging van die as van die boonstevlaklugstroom is ligblou.

Ekstratropiese siklone begin as golwe al langs weerfronte voordat hulle later in hulle lewensiklus okkludeer as kouekernstelsels. Sommige intense ekstratropiese siklone kan egter warmkernstelsels word.

Tropiese siklone vorm as gevolg van 'n aansienlike konveksie en het 'n warm kern.[16] Mesosiklone vorm as warmkernsiklone oor land en kan lei tot die vorming van tornado's.[17] Waterspuiers kan ook uit mesosiklone ontwikkel, maar doen dit meer dikwels uit omgewings van groot onstabiliteit en 'n vertikale skuifwind.[18] Siklolise is die teenoorgestelde van siklogenese en is die hoogdrukstelsel-ekwivalent.[19]

'n Laagdrukgebied op die aardoppervlak kan op verskeie maniere vorm. Topografie kan een skep. Konveksiestelsels op die mesoskaal kan 'n laagdrukgebied op die oppervlak laat ontstaan wat aanvanklik 'n warm kern het.[20] Die versteuring kan tot 'n golfagtige formasie groei al met die front langs. Die laagdrukgebied lê by die kruin. Om die gebied word die vloei siklonies. Dié draaiende vloei beweeg poollug na die ewenaar aan die westekant van die laagdrukgebied, terwyl warm lug aan die oostekant na die pool beweeg. 'n Kouefront vorm aan die westekant, terwyl 'n warmfront aan die oostekant vorm. Die kouefront beweeg gewoonlik vinniger as die warmfront en "haal dit in" vanweë die stadige erosie van lugmassa met 'n hoër digtheid voor die sikloon. Die lugmassa met die hoër digtheid wat agter die sikloon invloei, versterk terselfdertyd die digter koue lugmassa. Die kouefront gaan die warmfront verby en verkort die lengte van die warmfront.[21] In dié stadium vorm 'n okklusiefront waar die warm lug boontoe gedruk word in 'n trog van warm lug bo.[22]

Tropiese siklogenese is die ontwikkeling en versterking van 'n tropiese sikloon.[23] Die meganisme is effens anders as by ander siklone. Daar is ses hoofvereistes vir tropiese siklogenese:

  1. taamlik warm seeoppervlaktemperature,[24]
  2. atmosferiese onstabiliteit,
  3. hoë humiditeit in die laer tot middelste vlakke van die troposfeer
  4. genoeg Corioliskrag om 'n laagdrukkern te ontwikkel
  5. 'n vooraf bestaande laevlakfokus of -versteuring
  6. 'n lae vertikale skuifwind.[25]

Gemiddeld 86 tropiese siklone met die intensiteit van tropiese storms vorm jaarliks wêreldwyd,[26] met 47 wat die krag van 'n orkaan/tifoon bereik en 20 wat intense tropiese siklone word.[27]

'n Sikloon op Mars, afgeneem deur die Hubble-ruimteteleskoop.

Ander planete wysig

Siklone is nie uniek aan die Aarde nie. Sikloniese storms is algemeen op die gasreuse, soos die Klein Donker Vlek op Neptunus.[28] Sy deursnee is sowat 'n derde van dié van die Groot Donker Vlek en dit het die bynaam "Die Towenaar se Oog" gekry: Dit lyk soos 'n oog vanweë 'n wit wolk in die middel daarvan.[8] Mars het ook al sikloniese storms gehad.[7]

Die Groot Rooi Vlek op Jupiter is nie 'n sikloon nie, maar 'n antisikloon.[29]

Verwysings wysig

  1. Glossary of Meteorology (Junie 2000). "Cyclonic circulation". American Meteorological Society. Besoek op 17 September 2008.
  2. Glossary of Meteorology (Junie 2000). "Cyclone". American Meteorological Society. Besoek op 17 September 2008.
  3. 3,0 3,1 BBC Weather Glossary (Julie 2006). "Cyclone". BBC. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 Augustus 2006. Besoek op 24 Oktober 2006.
  4. 4,0 4,1 "UCAR Glossary — Cyclone". University Corporation for Atmospheric Research. Besoek op 24 Oktober 2006.
  5. National Hurricane Center (2012). Glossary of NHC terms. Besoek op 2012-08-13.
  6. I. Orlanski (1975). "A rational subdivision of scales for atmospheric processes". Bulletin of the American Meteorological Society. 56 (5): 527–530. Bibcode:1975BAMS...56..527.. doi:10.1175/1520-0477-56.5.527.
  7. 7,0 7,1 David Brand (19 Mei 1999). "Colossal cyclone swirling near Martian north pole is observed by Cornell-led team on Hubble telescope". Cornell University. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 13 Junie 2007. Besoek op 15 Junie 2008.
  8. 8,0 8,1 Samantha Harvey (2 Oktober 2006). "Historic Hurricanes". Nasa. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 15 April 2008. Besoek op 14 Junie 2008.
  9. 9,0 9,1 Nina A. Zaitseva (2006). "Cyclogenesis". National Snow and Ice Data Center. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 30 Augustus 2006. Besoek op 4 Desember 2006.
  10. "Modern Meteorology". India Meteorological Department. Besoek op 18 November 2011.
  11. 11,0 11,1 Chris Landsea and Sim Aberson (13 Augustus 2004). "Subject: A11) What is the "eye"? How is it formed and maintained ? What is the "eyewall"? What are "spiral bands"?". Atlantic Oceanographic and Meteorological Laboratory. Besoek op 28 Desember 2009.
  12. "The Atmosphere in Motion" (PDF). University of Aberdeen. Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 18 Oktober 2012. Besoek op 11 September 2011.
  13. Chris Landsea (6 Februarie 2009). "Subject: D3) Why do tropical cyclones' winds rotate counterclockwise (clockwise) in the Northern (Southern) Hemisphere?". Atlantic Oceanographic and Meteorological Laboratory. Besoek op 28 Desember 2009.
  14. "Are the winds on one side of a hurricane faster than on the other side?". USA Today. Ask the Experts: Hurricanes. 11 November 2007. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 12 Oktober 2011. Besoek op 9 September 2011.
  15. "Cyclogenesis | meteorology". Encyclopædia Britannica. Besoek op 13 Januarie 2021.
  16. Stan Goldenberg (13 Augustus 2004). "Frequently Asked Questions: What is an extra-tropical cyclone?". Atlantic Oceanographic and Meteorological Laboratory, Hurricane Research Division. Besoek op 23 Maart 2007.
  17. Forces of Nature. Tornadoes : the mesocyclone. Geargiveer 16 Junie 2008 op Wayback Machine Besoek op 2008-06-15.
  18. National Weather Service Key West summary of waterspout types
  19. Glossary of Meteorology (Junie 2000). "Cyclogenesis". American Meteorological Society. Besoek op 28 Desember 2009.
  20. Raymond D. Menard; J.M. Fritsch (Junie 1989). "A Mesoscale Convective Complex-Generated Inertially Stable Warm Core Vortex". Monthly Weather Review. 117 (6): 1237–1261. Bibcode:1989MWRv..117.1237M. doi:10.1175/1520-0493(1989)117<1237:AMCCGI>2.0.CO;2.
  21. Glenn Elert (2006). "Density of Air". The Physics Factbook. Besoek op 1 Januarie 2010.
  22. St. Louis University (6 September 2004). "What is a trowal?". National National Weather Association. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 8 Junie 2008. Besoek op 1 Januarie 2010.
  23. Nina A. Zaitseva (2006). "Definition for Cyclogenesis". National Snow and Ice Data Center. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 30 Augustus 2006. Besoek op 20 Oktober 2006.
  24. Cyclon in a board. thethermograpiclibrary.org
  25. Chris Landsea (6 Februarie 2009). "Subject: A15) How do tropical cyclones form ?". Atlantic Oceanographic and Meteorological Laboratory. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 27 Augustus 2009. Besoek op 1 Januarie 2010.
  26. Shultz, James M.; Russell, Jill; Espinel, Zelde (1 Julie 2005). "Epidemiology of Tropical Cyclones: The Dynamics of Disaster, Disease, and Development". Epidemiologic Reviews. 27: 21–35. doi:10.1093/epirev/mxi011. PMID 15958424. Besoek op 13 Januarie 2021.
  27. Chris Landsea (4 Januarie 2000). "Climate Variability table — Tropical Cyclones". Atlantic Oceanographic and Meteorological Laboratory. Besoek op 19 Oktober 2006.
  28. "TCFAQ H6) Are there hurricanes on other planets ?". www.aoml.noaa.gov. Besoek op 13 Januarie 2021.
  29. Ellen Cohen (2009). "Jupiter's Great Red Spot". Hayden Planetarium. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 8 Augustus 2007. Besoek op 16 November 2007.

Eksterne skakels wysig