Russiese Spoorweë

Die Russiese Spoorweë (Russies: Российские железные дороги; kort: РЖД; in Latynse letters volgens wetenskaplike transliterasie: RŽD; soms ook RZhD) is die nasionale spoorwegmaatskappy van die Russiese Federasie wat in die regsvorm van 'n ope aandelemaatskappy (OAO) georganiseer is. Die hoofkwartier is in Moskou gesetel.

Russiese Spoorweë
Российские железные дороги
TipeOpe aandelemaatskappy (OAO)
Gestig1 Oktober 2003
HoofkantoorMoskou, Vlag van Rusland Rusland
SleutelpersoneWladimir Jakoenin (president)
Gebied bedienRussiese Federasie
IndustrieOpenbare vervoer, spoorweë
Inkomste1195,1 miljard roebel (2010)
Werknemers976 116[1]
Webwerfrzd.ru
Elektriese gelykstroomlokomotief VL10, streekafdeling Suid-Oeral

Die maatskappy het die grootste deel van die infrastruktuur en voertuie van die Sowjet-spoorweë (СЖД, Sovetskie železnye dorogi of kort SŽD) oorgeneem. Die Russiese Spoorweë is in streekafdelings onderverdeel en bedryf 'n spoornetwerk van 85 500 kilometer (die tweede grootste ter wêreld ná dié van die Verenigde State) met 'n spoorwydte van 1 520 millimeter, waarvan 22 000 km met 25 kV wisselstroom (50 Hz) en 18 800 km met 3 kV gelykstroom geëlektrifiseer is. Die meeste spoorlyne is in die weste en suide van die land gekonsentreer. Sapsan-hoëspoedtreine loop tans as statusvervoermiddel tussen Moskou en Sint Petersburg.

Die Russiese Spoorweë het meer as 976 000 werkers in diens en hanteer 42,3 persent van Rusland se totale vragvervoer (insluitende pyplyne) asook 32,7 persent van dié land se passasiervervoer. Die maatskappy bedryf naas sy gewone spoornetwerk ook die Al-Russiese Navorsingsinstituut vir Spoorvervoer met 'n toetsspoorlyn naby Sjtsjerbinka suid van Moskou.

Verwysings wysig