Natuurramp

groot nadelige gebeurtenis as gevolg van natuurlike prosesse van die Aarde, wat lewensverlies of eiendom kan veroorsaak

'n Natuurramp is die skadelike uitwerking van 'n gevaarlike voorval in die natuur op 'n samelewing of gemeenskap. Sommige voorbeelde van natuurlike gevare sluit in droogtes, aardbewings, vloede, hittegolwe, siklone, vulkaniese aktiwiteit, veldbrande en grondverskuiwings – insluitende onderwater grondverskuiwings. Ander natuurlike gevare sluit in sneeustorms, stofstorms, brandstorms, haelstorms, ysreënstorms, sinkgate, donderstorms, tornado's en tsoenami's.[1]

Die risiko vir ekonomiese verlies van ses natuurrampe: tropiese siklone, droogtes, aardbewings, vloede, grondverskuiwings en vulkane.

'n Natuurramp kan lewensverlies of skade aan eiendom veroorsaak. Gewoonlik is daar groot ekonomiese skade. Hoe erg die skade is, hang af van hoe goed mense op rampe voorberei is en hoe sterk die geboue, paaie en ander infrastruktuur is.[2] Wetenskaplikes meen al lank dat die term "natuurramp" nie akkuraat is nie en laat vaar behoort te word.[3] In plaas daarvan kan die eenvoudiger term "ramp" gebruik word, terwyl die soort gevaar gespesifiseer word.[4][5][6]

'n Ramp vind plaas wanneer 'n natuurlike of mensgemaakte gevaar 'n kwesbare gemeenskap tref. Dit spruit uit die kombinasie van die gevaar en die blootstelling van 'n kwesbare samelewing.

Deesdae is dit moeilik om tussen "natuurlike" en "mensgemaakte" rampe te onderskei.[3][7][8] Die term "natuurramp" is reeds in 1976 bevraagteken.[6] Menslike keuses in argitektuur,[9] brandrisiko[10][11] en hulpbronbestuur[12] kan natuurrampe veroorsaak of vererger. Klimaatsverandering beïnvloed ook hoe gereeld rampe as gevolg van uiterse weergevare. Hierdie "klimaatsgevare" sluit in vloede, hittegolwe, veldbrande en tropiese siklone.[13]

Sekere faktore kan natuurrampe vererger, soos swak boustandaarde, die marginalisering van mense en swak grondgebruikbeplanning.[3] Baie ontwikkelende lande het nie behoorlike ramprisiko-verminderingstelsels nie,[14] en dit maak hulle kwesbaarder as lande waar mense 'n hoë inkomste het. 'n Ongunstige gebeurtenis word slegs 'n ramp as dit 'n kwesbare bevolking raak.[15]

Terminologie

wysig

'n "Natuurramp" is die hoogs skadelike impak op 'n samelewing of gemeenskap ná 'n natuurlike gevaarvoorval. Die term "ramp" self word soos volg gedefinieer: "Rampe is ernstige ontwrigtings van die funksionering van 'n gemeenskap wat sy vermoë oorskry om dit met eie hulpbronne te hanteer. Rampe kan veroorsaak word deur natuurlike, mensgemaakte en tegnologiese gevare, sowel as verskeie faktore wat die blootstelling en kwesbaarheid van 'n gemeenskap beïnvloed."ref>"What is a disaster?". ifrc.org – IFRC (in Engels). Besoek op 24 Mei 2023.</ref>

Die Amerikaanse Federale Noodbestuursagentskap (FEMA) verduidelik die verband tussen natuurrampe en natuurlike gevare soos volg: "Natuurlike gevare en natuurrampe is verwant, maar nie dieselfde nie. 'n Natuurlike gevaar is die bedreiging van 'n gebeurtenis wat waarskynlik 'n negatiewe impak sal hê. 'n Natuurramp is die negatiewe impak wat volg op die werklike voorkoms van 'n natuurlike gevaar, indien dit 'n gemeenskap aansienlik skade berokken.

'n Voorbeeld van die onderskeid is dat 'n aardbewing die gevaar is wat die San Francisco-aardbewingramp van 1906 veroorsaak het.

Natuurlike gevare kan in twee breë kategorieë geklassifiseer word: geofisiese en biologiese gevare.

Natuurlike gevare kan deur die menslike impak op die omgewing veroorsaak of beïnvloed word, byvoorbeeld grondgebruikverandering, dreinering en konstruksie.

Daar is 18 natuurlike gevare wat in FEMA se risiko-indeks ingesluit is: sneeustortings, kusvloede, kouegolwe, droogtes, aardbewings, hael, hittegolfwe, tropiese siklone, ysstorms, grondverskuiwings, weerlig, rivieroorstromings, sterk winde, tornado's, tsoenami's, vulkaniese aktiwiteit, veldbrande en winterweer. Daarbenewens is daar stofstorms.

Kritiek

wysig

Die term "natuurramp" is reeds in 1976 'n verkeerde benaming genoem.[6] Rampe kan voorkom word. Aardbewings, droogtes, vloede, storms en ander gebeure lei tot rampe as gevolg van menslike optrede en versuim. Swak grond- en beleidsbeplanning en deregulering kan slegter toestande skep. Dit behels dikwels ontwikkelingsaktiwiteite wat rampvermindering ignoreer of versuim om risiko’s te verminder. Die natuur alleen word vir rampe blameer, selfs wanneer dit die gevolg is van mislukkings in ontwikkeling. Rampe ontstaan ook as gemeenskappe versuim om voor te berei. Voorbeelde sluit in onvoldoende bouregulasies, marginalisering van mense, ongelykhede, oorbenutting van hulpbronne, uiterse stedelike uitbreiding en klimaatsverandering.[6]

Die definiëring van rampe as slegs natuurlike gebeure het ernstige implikasies vir begrip van die oorsake van 'n ramp en die verdeling van politieke en finansiële verantwoordelikheid in rampbestuur, vergoeding, versekering en rampvoorkoming.[16] Die gebruik van die term "natuurramp" mislei mense om te dink dat die verwoestende gevolge onvermydelik, buite ons beheer en bloot deel van 'n natuurlike proses is. Gevare (aardbewings, orkane, pandemies, droogtes, ensovoorts) is onvermydelik, maar die impak daarvan op die samelewing is nie.

Daarom is die term volgens sommige kenners onvanpas en moet dit vervang word met die eenvoudiger term "ramp", terwyl die spesifieke kategorie (of soort) gevaar aangedui word.[4]

Skaal

wysig

Tussen 1995 en 2015 het die meeste natuurrampe in Amerika, China en Indië plaasgevind.[17] In 2012 was daar wêreldwyd 905 natuurrampe, waarvan 93% weerverwant was. Van die rampe was 45% meteorologies (storms), 36% was hidrologies (oorstromings), 12% was klimatologies (hittegolwe, kouegolwe, droogtes, veldbrande) en 7% was geofisiese gebeure (aardbewings en vulkaniese uitbarstings). Tussen 1980 en 2011 was geofisiese gebeure verantwoordelik vir 14% van alle natuurrampe.[18]

Ontwikkelende lande het dikwels onvoldoende kommunikasiestelsels en ondersteuning vir ramprisikovermindering en noodbestuur.[14] Dit maak hulle kwesbaarder vir natuurrampe as ontwikkelde lande.

Invloed

wysig

'n Natuurramp kan lewensverlies, beserings en ander gesondheidsgevare veroorsaak, asook die beskadiging van eiendom, inkomsteverlies, sosiale en ekonomiese ontwrigting of omgewingskade.

Sterftes

wysig
Wêreldwye sterftes weens natuurrampe (1900-2022).

Wêreldwyd is die totale aantal sterftes as gevolg van natuurrampe oor die afgelope 100 jaar met 75% verminder, danksy die verhoogde ontwikkeling van lande, beter voorbereiding, beter onderwys en hulp van internasionale organisasies. Aangesien die wêreldbevolking gedurende dieselfde tydperk gegroei het, is die afname in die aantal sterftes per capita selfs groter en het dit tot 6% van die oorspronklike hoeveelheid gedaal.[19]

Die sterftesyfer weens natuurrampe is die hoogste in ontwikkelende lande as gevolg van die laer gehalte van boukonstruksies, infrastruktuur en mediese geriewe.[19]

Op die ekonomie

wysig
Wêreldwye skadekoste weens natuurrampte (1980-2022).

Wêreldywe ekonomiese verliese as gevolg van uiterste weer-, klimaats- en watergebeure neem toe. Koste het van die 1970's tot die 2010's sewevoudig toegeneem.[20]:16 Sosiaal-ekonomiese faktore het bygedra tot hierdie tendens, soos bevolkingsgroei en verhoogde welvaart.[21]

Dit dui daarop dat verhoogde blootstelling die belangrikste faktor in ekonomiese verliese is. 'n Deel hiervan is egter ook te wyte aan klimaatsveranderings wat deur die mens veroorsaak word.[22]:1611[23]

Op die omgewing

wysig

Tydens noodgevalle soos natuurrampe en gewapende konflikte kan meer afval geproduseer word, terwyl afvalbestuur 'n laer prioriteit geniet in vergelyking met ander dienste. Bestaande afvalbestuursdienste en infrastruktuur kan ontwrig word, wat gemeenskappe met onbeheerde afval en verhoogde rommel laat. Onder dié omstandighede word menslike gesondheid en die omgewing dikwels negatief beïnvloed.[24]

Natuurrampe (soos aardbewings, tsoenami’s en orkane) het die potensiaal om binne 'n kort tydperk 'n beduidende hoeveelheid afval te genereer. Afvalbestuurstelsels kan buite werking of beperk wees, wat dikwels aansienlike tyd en finansiering verg om te herstel. Die tsoenami in 2011 in Japan het byvoorbeeld enorme hoeveelhede puin veroorsaak: die Japanese departement van omgewingsake het beraam 5 miljoen ton afval is geproduseer. 'n Deel van dié afval, meestal plastiek en skuimrubber, het teen laat 2011 aan die kuslyne van Kanada en die VSA uitgespoel. Aan die weskus van die VSA het dit die hoeveelheid rommel met ’n faktor van 10 verhoog en moontlik uitheemse spesies daarheen vervoer. Storms veroorsaak ook baie plastiekafval. ’n Studie deur Lo et al. (2020) het ’n toename van 100% in die hoeveelheid mikroplastiek gerapporteer op strande wat in 2018 ná ’n tifoon in Hongkong ondersoek is.[24]

’n Beduidende hoeveelheid plastiekafval kan tydens rampverligtingsoperasies geproduseer word. Ná die aardbewing van 2010 in Haïti is die afval wat deur verligtingsoperasies gegenereer is, as ’n "tweede ramp" beskryf. Die Amerikaanse weermag het berig miljoene waterbottels en voedselhouers van skuimrubber is versprei, alhoewel daar geen operasionele afvalbestuurstelsel was nie. Meer as 700 000 plastiekseile en 100 000 tente is benodig vir noodskuilings. Die toename in plastiekafval, gekombineer met swak wegdoeningspraktyke, het daartoe gelei dat oop dreineringskanale verstop geraak het, wat die risiko van siektes verhoog het.[24]

Konflikte kan grootskaalse verplasings van gemeenskappe tot gevolg hê. Mense wat onder dié omstandighede leef, word dikwels van minimale afvalbestuursgeriewe voorsien. Brandputte word algemeen gebruik om gemengde afval, insluitend plastiek, te vernietig. Lugbesoedeling kan tot respiratoriese en ander siektes lei. Sahrawi-vlugtelinge woon byvoorbeeld al byna 45 jaar lank in vyf kampe naby Tindouf, Algerië. Omdat afvalinsamelingsdienste onderbefonds is en daar geen herwinningsgeriewe is nie, het plastiek die strate en omgewing van die kampe oorstroom. Daarteenoor het die Azraq-kamp in Jordanië, wat vlugtelinge uit Sirië huisves, afvalbestuurstelsels; van die 20,7 ton afval wat per dag geproduseer word, is 15% herwinbaar.[24]

Op vroue en kwesbare bevolkings

wysig

As gevolg van die sosiale, politieke en kulturele konteks van baie plekke oor die wêreld heen word vroue dikwels buitensporig deur rampe geraak.[25] In die Indiese Oseaan-tsoenami van 2004 het meer vroue as mans gesterf, deels omdat minder vroue kon swem.[25] Tydens en ná ’n natuurramp loop vroue ’n groter risiko om deur geslagsgebaseerde geweld geraak te word en is hulle kwesbaarder vir seksuele geweld. Ontwrigte wetstoepassing en swak regulasies dra almal by tot ’n verhoogde risiko van geslagsgebaseerde geweld en seksuele aanranding.[25]

Benewens LGBT-mense en immigrante word vroue buitensporig geviktimiseer deur mense wat godsdiensgebaseerde sondebokke vir natuurrampe soek: Fanatiese godsdiensleiers of volgelinge kan byvoorbeeld beweer ’n god of gode is kwaad vir vroue se onafhanklike, vrydenkende gedrag, soos om "onbeskeie" aan te trek, seks te hê of aborsies te ondergaan.[26] Die Hindoeparty Hindu Makkal Katchi en ander het vroue in Indië se stryd om toegang tot die Sabarimala-tempel te kry geblameer vir die vloed van Augustus 2018 in die suidelike staat Kerala wat glo deur die woedende god Ajjappan veroorsaak is.[27][28]

Swanger vroue is een van die groepe wat buitensporig deur natuurrampe geraak word. Onvoldoende voeding, min toegang tot skoon water, ’n gebrek aan gesondheidsorgdienste en sielkundige stres ná die ramp kan lei tot ’n beduidende toename in moederlike siektes en sterftes. Verder kan die tekort aan gesondheidsorgbronne in dié tyd selfs roetine- mediese komplikasies in noodgevalle omskep.[29]

Toegang tot voorbehoedmiddels kan ook beperk wees.[25] Onbeskermde omgang in dié tyd kan lei tot verhoogde geboortesyfers, onbeplande swangerskappe en seksueel oordraagbare infeksies.[25][30]

Op regerings en stemprosesse

wysig

Rampe plaas stres op die regering se kapasiteit, aangesien die regering probeer om sowel roetine- as nooddienste uit te voer. Sommige teoretici van stemgedrag stel voor dat burgers inligting oor die regering se doeltreffendheid opdateer op grond van hulle reaksie op rampe, wat die kiesers se stemkeuse in die volgende verkiesing beïnvloed. Trouens, daar is bewyse dat regerende partye stemme kan verloor as burgers hulle beskou as verantwoordelik vir 'n swak reaksie op rampe,[31] of stemme kan wen as gevolg van waarnemings dat hulle hulle goed van hulle taak gekwyt het.[32]

Vloede

wysig
Vloedskade

Vloede kom voor wanneer daar 'n oormatige hoeveelheid water op land wat gewoonlik droog is, voorkom. Daar is verskeie oorsake vir vloede: Oormatige of langdurige reënval, riviere wat oorstroom, damwalle wat meegee en ys wat vinniger as gewoonlik smelt, kan alles veroorsaak dat daar 'n vloed in 'n gebied voorkom.[33]

Vloede kan geleidelik opbou soos in die geval van verlengde reënval wat oorstromings veroorsaak. Dikwels is die massas water meer as wat die infraskruktuur in bewoonde gebiede kan hanteer en dan gee die dreine en pype mee wat die water moet wegvoer. Inwoners het dan gewoonlik kans om voor te berei vir die ramp wat kom.[34]

Ander vloede ontwikkel skielik, sonder waarskuwing en word as blitsvloede geklasifiseer. 'n Baie harde reënbui of storm, of 'n damwal wat skielik meegee kan 'n blitsvloed veroorsaak. Blitsvloede is baie gevaarlik omdat dit 'n groot massa water is wat met groot krag vloei en allerhande klippe, stompe en ander voorwerpe saamsleur terwyl dit alles in sy pad vernietig.[33][34]

Vloede op die kuslyn kan deur tsoenami’s of groot seestorms veroorsaak word wat groot golwe seewater oor die binneland laat spoel.[33] (sien Tsoenami’s hieronder)

Tornado's

wysig
Tornado

'n Tornado is 'n roterende lugkolom aangeheg aan 'n cumulonimbuswolk, wat baie vinnig roteer en aan die aarde se oppervlak raak.[35]

Tornado’s ontstaan gewoonlik uit 'n donderstorm. Hulle is baie kragtig en kan in uiterse gevalle tot so vinnig as 480 km/uur draai en kan streke van 1,6 km wyd en 80 km lank verwoes.[36]

Die wind binne tornado’s is baie sterk en kan selfs swaar voorwerpe soos voertuie, bome en dakplate in die lug opsuig. Ligte voorwerpe soos papiere kan tot 160 km saamgewaai word.[37]

Aardbewings

wysig
Aardbewingskade aan 'n gebou in Haiti

Aardbewings is 'n geologiese gebeurtenis in die aardkors wat hewige skudding op die aarde se oppervlak veroorsaak. Hierdie skudding kan groot skade aanrig aan die natuur, mense en mensegemaakte strukture.[38]

Die geologiese gebeurtenis behels tektoniese plate wat teen mekaar skuur. Die aarde bestaan uit 4 hoof lae. Die buitenste laag is die aardkors, dan is daar die aardmantel, die vloeibare buitekern en die soliede binnekern. Die aardkors en boonste laag van die aardmantel vorm die tektoniese plate. Die plate is los van mekaar, amper soos legkaartstukke wat die aarde se oppervlak bedek. Omdat die plate los van mekaar is, beweeg hulle afsonderlik rond en wanneer die plate se growwe kante teen mekaar skuur, kan dit gebeur dat 'n kant aan 'n ander plaat vashak. Die sy van die plaat wat vashak sit dan vas terwyl die res van die plaat aanhou beweeg wat veroorsaak dat spanning (energie) opbou. Uiteindelik skuif die sy wat vasgehak het verby die ander plaat en al die energie wat opgebou het word dan vrygestel in die vorm van seismiese golwe wat dan die aardoppervlak laat skud.[39]

'n Aardbewing op die kuslyn kan tsoenami’s veroorsaak.[40][35](sien ook tsoenami’s hieronder)

Aardbewings kan ook gepaard gaan met vulkaniese uitbarstings.[38] (sien vulkaniese uitbarstings hieronder)

Vulkaniese uitbarstings

wysig
'n Vulkaan

'n Vulkaan is 'n opening in die aarde se oppervlak waardeur magma, gasse en ander ondergrondse puin uitbars.[41] 'n Uitbarsting vind plaas wanneer die druk van die gasse in die magma te hoog word en dan veroorsaak dat die magma uitbars.[42]

Vulkane is gewoonlik bergagtige strukture, omdat die magma wat uitbars om die opening verhard. Uitbarstings kan groot verwoesting saai, en selfs hele nedersettings bedek in lava wat dan verhard.[42]

Vloeiende lawa wat uitgebars het kan so warm as 1250°C word en dus alles waaroor dit vloei verbrand en vernietig.[42]Stukke rots, as en gevaarlike gasse bars ook uit. Die vlieënde stukke rots kan geboue verwoes en mense doodmaak. Die gasse wat vrygestel word is skadelik vir mense en diere se longe. Mense wat versmoor as gevolg van hoë konsentrasies van skadelike gasse in die lug is die mees algemene oorsaak van dood na afloop van 'n vulkaniese uitbarsting.[35]Na die uitbarsting hang die as in die lug en val af aarde toe, om 'n kombers van as te vorm. Hierdie as is baie dig en kan plante, diere en mense versmoor.

Droogtes

wysig
Uitgedroogde grond

Daar is 'n droogte in 'n gebied wanneer dit besonder droog is (minder as gewoonlik reën) vir 'n buitengewone lang tydperk. Lae reënval is nie dieselfde as droogte nie. Daar is net 'n droogte wanneer dit nóg minder reën as gewoonlik, hoe laag die gewone reënval ookal is, sodat daar nie genoeg water is om aan die normale verbruikersbehoefte te voldoen nie.[43]

Droogtes veroorsaak direkte skade soos boere se oeste wat uitdroog en doodgaan, maar ook indirekte skade soos die ekonomie wat lei. (As die boere byvoorbeeld nie hulle oeste kan verkoop nie, maak hulle nie wins nie ek kan dan ook nie ander handelaars ondersteun deur aankope te maak nie, dus maak die handelaars ook nie wins nie.)[44]Die skade (direk of indirek) kan die ekonomie, die omgewing en die sosiale welstand van mense affekteer.[45]

Tsoenami's

wysig
'n Animasie van die 2004-tsoenami.

'n Tsoenami is 'n reeks baie lang golwe in die see wat groot verwoesting saai wanneer dit die land tref en oorstroom. Meestal word 'n tsoenami deur 'n aardbewing veroorsaak, maar kan ook as gevolg van grondverskuiwings onder seevlak, of vulkaniese uitbarstings onder seevlak ontwikkel.[46]

Tsoenami-golwe is verder as uit mekaar versprei as gewone see golwe. In die diepsee is die tsoenami golwe dikwels verder as 100 km uit mekaar versprei en daar kan tussen 10 minute en 'n uur verbygaan voor die volgende golf. Die golwe is klein in die diepsee, maar beweeg baie vinnig. Wanneer die tsoenami golwe dan die vlak see bereik, beweeg hulle stadiger en hoop die golwe op om 'n reuse muur van water te vorm van 10 m of hoër.[46]

Hierdie reuse, kragtige golwe spoel dan oor die binneland en saai groot verwoesting. Die kragtige golwe beweeg baie vinniger as wat 'n mens kan hardloop en kan voorwerpe soos rotse, en selfs bote honderde meters in die binneland in meesleur, geboue vernietig en mense doodmaak. Tsoenami’s kan 'n paar ure na die eerste golf nogsteeds gevaar inhou met na-golwe.[46]

Veldbrande

wysig
Veldbrand

Veldbrande is onbeheersde vure wat in die natuur brand en groot verwoesting saai. Daar is drie vereistes vir 'n veldbrand om te ontstaan: Brandstof, suurstof en 'n bron van hitte. Enige materiaal wat vlambaar is kan dien as brandstof. Gras, bome, bosse en selfs huise kan brandstof vir 'n veldbrand wees. Die bron van hitte steek die vuur aan die brand. Weerlig, kampvure, sigarette, warm wind, en selfs die son kan die bron van hitte wees.[47]

Droë weer en droogtes kan velde en groen plantegroei omskep in die ideale brandstof vir veldbrande. Die wind vererger ook veldbrande deur die vlamme vinnig te versprei.[47]

Vier uit vyf veldbrande word deur mense gestig,[47] daarom is veldbrand bewustheid baie belangrik.

Veldbrande versprei baie vinnig en kan tot so vinnig as 23 km/uur beweeg, wat dit moeilik maak om te beheer en te blus. Sommige veldbrande kan vir weke aanmekaar brand as mense dit nie onder beheer kry nie en sal aanhou brand tot een van die drie vereistes nie meer beskikbaar is nie.[47]

Haelstorms

wysig
Haelstorm

Haelstorms is weerstorms wat haelkorrels laat neerslaan.[48] Die haelkorrels is balle wat uit ys bestaan en kan so klein soos 'n ertjie (5 mm) of so groot soos 'n pomelo (15 cm) in deursnee wees.[49]

Reëndruppels in die lug vries, en trek dan ander reëndruppels aan wat dan ook aan die gevriesde druppel vasvries en so word die haelkorrel al hoe groter.[50]

Haelstorms kan groot skade aanrig aan landboubedrywighede, geboue, voertuie, en mense.[51]

Verwysings

wysig
  1. "Natural Hazards | National Risk Index". hazards.fema.gov. FEMA. Besoek op 8 Junie 2022.
  2. G. Bankoff; G. Frerks; D. Hilhorst, reds. (2003). Mapping Vulnerability: Disasters, Development and People. Routledge. ISBN 1-85383-964-7.
  3. 3,0 3,1 3,2 "Why natural disasters aren't all that natural". openDemocracy. 26 November 2020. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 November 2020. Besoek op 29 Desember 2020.
  4. 4,0 4,1 Kevin Blanchard #NoNaturalDisasters – Changing the discourse of natural disaster reporting (16 November 2018)
  5. Cannon, Terry. (1994). Vulnerability Analysis and The Explanation Of 'Natural' Disasters. Disasters, Development and Environment.
  6. 6,0 6,1 6,2 6,3 "Why natural disasters aren't all that natural". preventionweb.net (in Engels). 14 September 2017. Besoek op 6 Junie 2022.
  7. Gould, Kevin A.; Garcia, M. Magdalena; Remes, Jacob A.C. (1 Desember 2016). "Beyond 'natural-disasters-are-not-natural': the work of state and nature after the 2010 earthquake in Chile". Journal of Political Ecology. 23 (1): 93. doi:10.2458/v23i1.20181.
  8. Smith, Neil (11 Junie 2006). "There's No Such Thing as a Natural Disaster". Items. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 Januarie 2021. Besoek op 29 Desember 2020.
  9. Coburn, Andrew W.; Spence, Robin JS; Pomonis, Antonios (1992). "Factors determining human casualty levels in earthquakes: mortality prediction in building collapse" (PDF). Proceedings of the tenth world conference on earthquake engineering. Vol. 10. pp. 5989–5994. ISBN 978-90-5410-060-7. Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 12 November 2020. Besoek op 29 Desember 2020.
  10. "Wildfire Causes and Evaluations". National Park Service. 27 November 2018. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Januarie 2021. Besoek op 29 Desember 2020.
  11. DeWeerdt, Sarah (15 September 2020). "Humans cause 96% of wildfires that threaten homes in the U.S." Anthropocene. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 10 Desember 2020. Besoek op 29 Desember 2020.
  12. Smil, Vaclav (18 Desember 1999). "China se groot hongersnood: 40 jaar later". The BMJ. 319 (7225): 1619–1621. doi:10.1136/bmj.319.7225.1619. PMC 1127087. PMID 10600969.
  13. McGuire, Bill (2012). Waking the Giant: How a changing climate triggers earthquakes, tsunamis, and volcanoes. Oxford University Press. ISBN 978-0-19-959226-5. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 18 April 2022. Besoek op 29 Desember 2020.
  14. 14,0 14,1 Zorn, Matija (2018), Pelc, Stanko; Koderman, Miha, eds., "Natural Disasters and Less Developed Countries" (in en), Nature, Tourism and Ethnicity as Drivers of (De)Marginalization: Insights to Marginality from Perspective of Sustainability and Development, Perspectives on Geographical Marginality (Cham: Springer International Publishing) 3: pp. 59–78, doi:10.1007/978-3-319-59002-8_4, ISBN 978-3-319-59002-8, https://doi.org/10.1007/978-3-319-59002-8_4, besoek op 2022-06-08 
  15. D. Alexander (2002). Principles of Emergency planning and Management. Harpended: Terra publishing. ISBN 1-903544-10-6.
  16. "Time to say goodbye to "natural" disasters". preventionweb.net (in Engels). 16 Julie 2020. Besoek op 6 Junie 2022.
  17. "Weer-verwante rampe neem toe". The Economist. 29 Augustus 2017. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 30 Augustus 2017. Besoek op 30 Augustus 2017.
  18. Natuurrampe in 2012 oorheers deur VSA se weer-uiterstes Geargiveer 2 Julie 2013 op Wayback Machine Worldwatch Institute 29 Mei 2013
  19. 19,0 19,1 Rosling, H.; Rosling, O.; Rönnlund, A.R. (2018). Factfulness: Ten Reasons We're Wrong About the World – and Why Things Are Better Than You Think. Flatiron Books. pp. 107–109, 299–325. ISBN 978-1-250-10781-7.
  20. World Meteorological Society (WMO) (2021). WMO Atlas of Mortality and Economic Losses from Weather, Climate and Water Extremes (1970–2019). https://library.wmo.int/idurl/4/57564
  21. Bouwer, Laurens M. (2019), Mechler, Reinhard; Bouwer, Laurens M.; Schinko, Thomas et al., eds., "Observed and Projected Impacts from Extreme Weather Events: Implications for Loss and Damage", Loss and Damage from Climate Change: Concepts, Methods and Policy Options, Climate Risk Management, Policy and Governance (Cham: Springer International Publishing): pp. 63–82, doi:10.1007/978-3-319-72026-5_3, ISBN 978-3-319-72026-5 
  22. Seneviratne, S.I., X. Zhang, M. Adnan, W. Badi, C. Dereczynski, A. Di Luca, S. Ghosh, I. Iskandar, J. Kossin, S. Lewis, F. Otto, I. Pinto, M. Satoh, S.M. Vicente-Serrano, M. Wehner, and B. Zhou, 2021: Weather and Climate Extreme Events in a Changing Climate. In Climate Change 2021: The Physical Science Basis. Contribution of Working Group I to the Sixth Assessment Report of the Intergovernmental Panel on Climate Change [Masson-Delmotte, V., P. Zhai, A. Pirani, S.L. Connors, C. Péan, S. Berger, N. Caud, Y. Chen, L. Goldfarb, M.I. Gomis, M. Huang, K. Leitzell, E. Lonnoy, J.B.R. Matthews, T.K. Maycock, T. Waterfield, O. Yelekçi, R. Yu, and B. Zhou (eds.)]. Cambridge University Press, Cambridge, United Kingdom and New York, NY, USA, pp. 1513–1766, doi:10.1017/9781009157896.013
  23. Newman, R., Noy, I. The global costs of extreme weather that are attributable to climate change. Nat Commun 14, 6103 (2023). doi:10.1038/s41467-023-41888-1
  24. 24,0 24,1 24,2 24,3 "Drowning in Plastics – Marine Litter and Plastic Waste Vital Graphics" (in Engels). UNEP – UN Environment Programme. 21 Oktober 2021. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 Maart 2022. Besoek op 23 Maart 2022.
  25. 25,0 25,1 25,2 25,3 25,4 Nour, Nawal N (2011). "Maternal Health Considerations During Disaster Relief". Reviews in Obstetrics and Gynecology. 4 (1): 22–27. PMC 3100103. PMID 21629495.
  26. Lord, Leighann (1 Oktober 2019). "The easiest way to respond to a natural disaster? Blame God or global warming". The Guardian. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 28 September 2019. Besoek op 28 September 2019.
  27. "Kerala flood blamed on women's entry into Sabarimala by Hindu Makkal Katchi". The New Indian Express. 15 Augustus 2018. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 28 September 2019. Besoek op 28 September 2019.
  28. Asmita Nandy (20 Augustus 2018). "Hate Mongers on Twitter Blamed Women, Beef, Muslims, Christians and Communism for Causing the Kerala Floods". The Quint. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 28 September 2019. Besoek op 28 September 2019.
  29. Meyers, Talya (23 Desember 2019). "Pregnant women are particularly vulnerable to disasters". Direct Relief. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Oktober 2020. Besoek op 21 September 2020.
  30. Harville, Emily; Xiong, Xu; Buekens, Pierre (November 2010). "Disasters and Perinatal Health: A Systematic Review". Obstetrical & Gynecological Survey. 65 (11): 713–728. doi:10.1097/OGX.0b013e31820eddbe. PMC 3472448. PMID 21375788.
  31. Clarke, Daniel J.; Dercon, Stefan (2016). Dull Disasters? How planning ahead will make a difference (in English). Oxford University Press. hdl:20.500.12657/32368. ISBN 978-0-19-878557-6. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 4 Oktober 2021. Besoek op 4 Oktober 2021.{{cite book}}: AS1-onderhoud: onerkende taal (link)
  32. Healy, Andrew; Malhotra, Neil (Augustus 2009). "Myopic Voters and Natural Disaster Policy". American Political Science Review (in Engels). 103 (3): 387–406. doi:10.1017/S0003055409990104. ISSN 1537-5943. S2CID 32422707. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 4 Oktober 2021. Besoek op 4 Oktober 2021.
  33. 33,0 33,1 33,2 Floods. National Geographic. Verkry op 31 Mei 2013.
  34. 34,0 34,1 Floods. Ready.gov 2011. Verkry op 1 Jun 2013.
  35. 35,0 35,1 35,2 Natural Disasters. The Earth Times Encyclopaedia 2011. Verkry op 1 Jun 2013.
  36. Tornadoes. Ready.gov 2011. Verkry op 1 Jun 2013.
  37. Tornado Damage. The Online Tornado FAQ by Roger Edwards, SPC. Verkry op 5 Jun 2013.
  38. 38,0 38,1 Earthquake. World of Earth Science. 2003. Encyclopedia.com. Verkry op 5 Jun 2013.
  39. The Science of Earthquakes. Earthquake Hazards Program – USGS. 2009. Verkry op 1 Jun 2013.
  40. Cool Earthquake Facts. Earthquake Hazards Program – USGS 2009. Verkry op 1 Jun 2013.
  41. Volcanoes. National Geographic. 2010. Verkry op 31 Mei 2013.
  42. 42,0 42,1 42,2 Volcanoes. Ready.gov 2011. Verkry op 3 Jun 2013.
  43. Living with Drought Geargiveer 18 Februarie 2007 op Wayback Machine. Bureau of Meteorology. Verkry op 4 Jun 2013.
  44. How Does Drought Affect Our Lives?. 2011. Verkry op 4 Jun 2013.
  45. Types of Drought Impacts. National Drought Mitigation Center. 2011. Verkry op 4 Jun 2013.
  46. 46,0 46,1 46,2 Tsunami, The Great Waves Geargiveer 23 April 2014 op Wayback Machine. UNESCO International Tsunami Information Center. Verkry op 3 Jun 2013.
  47. 47,0 47,1 47,2 47,3 Wildfires. National Geographic. 2010. Verkry op 4 Jun 2013.
  48. Hailstorm. AMS Glossary. 2013. Verkry op 4 Jun 2013.
  49. Hailstone. AMS Glossary. 2013. Verkry op 4 Jun 2013.
  50. Hazards. Aviation Weather. 2007. Verkry op 4 Jun 2013.
  51. Doesken, Nolan J. "Hail, hail, hail! The summertime hazard of eastern Colorado." Colorado Climate Publication. Volume 17, Number 7. April 1994. Besoek op 4 Junie 2013.
🔥 Top keywords: