Komitas Vardapet

Komitas Vardapet
Կոմիտաս Վարդապետ


Armeense komponis en musiekwetenskaplike


Musikale stroming
Klassieke musiek


Beduidende werke



Badarak (Goddelike Liturgie)


Monumente

  • Monument vir Komitas en die slagoffers van die Armeense volksmoord


Jardin d'Erevan, Parys

Soghomon Gevorki Soghomonian, algemeen bekend as Komitas Vardapet of kort Komitas (Armeens: respektiewelik Սողոմոն Գևորքի Սողոմոնյան en Կոմիտաս Վարդապետ), volgens die Wes-Armeense transliterasie ook Gomidas Vartabed genoem (* 26 September of 8 Oktober 1869 in Kütahya, Ottomaanse Ryk, tans Turkye; † 22 Oktober 1935 in Parys, Frankryk) was 'n Armeense priester, komponis, sanger, koormusikus, musiekpedagoog, musieketnoloog en musiekwetenskaplike. Hy word vandag algemeen as die grondlegger van moderne klassieke musiek in Armenië beskou.

Lewe wysig

Soghomon G. Soghomonian is in 'n musikale familie gebore. Toe hy ses maande oud was, is sy moeder oorlede. Op elfjarige leeftyd het hy sy vader verloor. Soghomon is deur sy grootmoeder grootgemaak totdat 'n prelaat van die plaaslike Armeense diosese hom na Etsjmiadsin, die setel van die Armeens-Apostoliese kerkhoof, saamgeneem het. Die prelaat, wat daar as biskop georden is, het vir sy opleiding gesorg.

Katedraal van Etsjmiadsin

Toe die katholikos Gevork IV bepaal dat een van twintig weeskinders aan die kerklike seminarie sou deelneem om 'n akademiese opleiding te ontvang, is Soghomon vanweë sy hoë intelligensie gekies. Sy musikale aanleg en sy aangename stem is gewaardeer, en in 1893 het hy sy studies as monnik voltooi. Volgens die kerktradisie is hy as nuutgebore beskou en gedoop as Komitas. Hierdie naam was 'n verwysing na 'n gelyknamige 7de eeuse katholikos wat as himnedigter en musikus bekendheid verwerf het.

Twee jaar later het hy priester geword en die titel Vardapet (of Vartabet) ontvang - 'n term wat in Armeens eintlik "doktor" of "geleerde" beteken, maar as titel al eeue lank tot die geestelikheid beperk was. Intussen het Mkrtich Khrimian, wat onder die naam Hairik ("Vadertjie") as nuwe katholikos georden is, Komitas se musikale aanleg bevorder en vir hom 'n beurs vir verdere studies in Tbilisi (onder Makar Jekmaljan) en Berlyn bemiddel.

In die Duitse hoofstad het hy hom by Richard Schmidt se privaat konservatorium ingeskryf en tegelykertyd estetiek en musiekteorie aan die Friedrich-Wilhelms-universiteit gestudeer. In 1899 het hy sy doktorale tesis in musiekteorie ingedien. Nadat hy sy doktorstitel ontvang het, het hy na Etsjmiadsin teruggekeer.

Inhegtenisneming en deportasie wysig

Op 24 April 1915 - die dag wat as begin van die Aghet of Armeense volksmoord beskou word wat deur die owerheid van die Ottomaanse Ryk georganiseer is - is hy in Konstantinopel saam met enkele honderd ander Armeense intellektueles in hegtenis geneem en na Çankırı oos van Ankara gedeporteer.

Terwyl byna alle ander gedeporteerdes daar deur die Turke vermoor is, het die Turkse minister van binnelandse sake, Talaat Pasja, bepaal dat agt bannelinge, waaronder Komitas, sou terugkeer. Vermoedelik het die Amerikaanse ambassadeur Henry Morgenthau en die digter Mehmet Emin Yurdakul hulle ten gunste van sy vrylating uitgespreek.

Toe hy teruggekeer het, was sy persoonlike materiaal, waaronder 'n deel van sy waardevolle versameling van liedere, merendeels vernietig. Die oorblyfsels was in 'n chaotiese toestand. Komitas het nooit werklik van die traumatiese gebeure herstel nie. In die volgende jaar het sy psigiese toestand erg versleg, en vriende het hom na 'n Turkse militêre hospitaal geneem. Van daar is hy in 1919 na Parys verskuif waar hy aanvanklik in 'n privaat hospitaal in Ville-Evrard behandel is.

Vanaf 1922 tot en met sy afsterwe in 1935 het hy teruggetrokke in die psigiatriese hospitaal te Villejuif geleef. Sy sterflike oorskot is een jaar later na Jerewan geneem en daar in die Pantheon begrawe.

Werke wysig

In 1899 het Komitas in Etsjmiadsin die leiding van 'n mannekoor oorgeneem. Tegelykertyd het hy dwars deur die land gereis en 'n groot aantal Armeense volksliedere en -danse versamel wat tradisioneel in dorpe opgevoer is. Om hierdie dorpswysies, waarvan baie oor die eeue heen mondeling oorgelewer is, presies te kan dokumenteer, het hy sy eie notasiestelsel ontwikkel.

Komitas se versameling het sowat 3 000 dorpsgesange, waaronder werk-, huweliks- en liefdesliedere en danse, maar ook liedere oor die traumatiese ervaring van etniese verdrywing wat die Armeense volk verskeie kere moes verduur. Hy het slegs 'n klein gedeelte hiervan, meestal as kunslied met klavierbegeleiding getoonset, gepubliseer. Die liedere is oorwegend vir meerstemmige koorsang bewerk.

Die bekendste wysies is moontlik Kroenk ("Die Kraanvoël"), Tsirani Tsar ("Die Appelkoosboom"), Antoeni ("Dakloos"), Kele-kele ("Beweeg op en neer"), Sjogher Djan en Kakavi Jerg ("Lied van die Veldhoender"). Komitas het ook 'n himne oor Armenië (Hajastan) geskrewe.

Eksterne skakels wysig