Juliaanse kalender

die kalender wat deur Julius Caesar ingestel en daarna deur die grootste deel van die Christelike wêreld gebruik is

Die Juliaanse kalender het die Romeinse kalender in 45 v.C. vervang nadat Julius Caesar dit die vorige jaar bekendgestel het. Dit is waarskynlik ontwerp om ooreen te stem met die tropiese jaar (die jaar gebaseer op die verloop van die seisoene). Die Juliaanse kalender het ’n normale jaar van 365 dae wat in twaalf maande verdeel word, met ’n skrikkeljaar wat elke vier jaar by Februarie gevoeg word. Die Juliaanse jaar is dus gemiddeld 365,25 dae lank.

Die Juliaanse kalender is tussen die 16de en 20ste eeu geleidelik vervang deur die Gregoriaanse kalender, wat eintlik net ’n aanpassing van eersgenoemde is.

Die maande wysig

In die ou Romeinse kalender het die jaar op 1 Martius begin. Dit kan steeds gesien word in die name van die maande September ('septem' = sewe), Oktober ('octo' = agt), November ('novem' = nege) en Desember ('decem' = tien).

In die Juliaanse kalender is die maande van die ou kalender behou, maar hulle is aangepas en die begin van die jaar op 1 Januarie vasgestel. Die skrikkeljaar van die ou kalender het ook verdwyn.

Voor Julius CaesarTydens CaesarVanaf Augustus
NaamDuurNaamDuurNaamDuur
Martius31Martius31Martius31
Aprilis29Aprilis30Aprilis30
Maius31Maius31Maius31
Iunius29Iunius30Iunius30
Quintilis31Iulius31Iulius31
Sextilis29Sextilis30Augustus31
Septembris29Septembris31Septembris30
Octobris31Octobris30Octobris31
Novembris29Novembris31Novembris30
Decembris29Decembris30Decembris31
Ianuarius29Ianuarius31Ianuarius31
Februarius28 of 22/23Februarius29 of 30Februarius28 of 29
Intercalaris0 of 27
totaal355, 376 of 377365 of 366365 of 366

Gebruik wysig

Die Juliaanse kalender is in amper die hele Romeinse Ryk gebruik. Met die opkoms van die Christendom is dit ook gebruik om die tyd van die Christelike feesdae, veral Paasfees, te bepaal. Die kerk het dus besondere waarde aan die kalender geheg.

Die Juliaanse kalender word tans nog deur sommige Oosters-Ortodokse kerke gebruik. In dié kerke, soos die Russies-Ortodokse Kerk, val Kersfees op 7 Januarie, wat volgens die Juliaanse kalender 25 Desember van die vorige jaar is. Ander Ortodokse kerke gebruik die Gregoriaanse kalender, wat hulle die Nieu-Juliaanse, Hersiene Juliaanse of Griekse kalender noem, vir vaste Christelike feesdae soos Kersfees, maar die Juliaanse kalender vir feesdae wat met Paasfees verband hou.

Onder invloed van die Kerk het Rusland die Juliaanse kalender nog tot in 1918 gebruik. So het die Russiese Revolusie van 1917, wat in Russies die Oktober-revolusie (октябрьская революция, Oktjabrskaja revoljoetsia) genoem word, in die Westerse maand November plaasgevind. Wanneer na datums voor 1918 verwys word, word O.S (Ou Styl) vir die Juliaanse kalender en N.S. (Nuwe Styl) vir die Gregoriaanse kalender dikwels tussen hakies aangegee.

Sien ook wysig

Eksterne skakels wysig