Ierse Rugbyvoetbalunie

Die Ierse Rugbyvoetbalunie (Engels: Irish Rugby Football Union, afgekort “IRFU”; Iers-Gaelies: Cumann Rugbaí na hÉireann) is die bestuursliggaam wat rugby en sewesrugby in Ierland (beide die Republiek Ierland en Noord-Ierland) beheer. Die beheerliggaam is in 1879 gestig en by Lansdowne Road in Dublin gesetel. Sedert 1886 verteenwoordig dit Ierland by Wêreldrugby en ook by Rugby Europa (“RE”).

Ierse Rugbyvoetbalunie
Kenteken van die Ierse Rugbyvoetbalunie
Kenteken van die Ierse Rugbyvoetbalunie
Engelse naamIrish Rugby Football Union
AfkortingIRFU
Iers-Gaeliese naamCumann Rugbaí na hÉireann
LandeFlag of Ireland Ierland en Vlag van Noord-Ierland Noord-Ierland
SportsoorteRugby, Sewesrugby
Stigting1879
Gestig inDublin, Ierland
Lid vanWêreldrugby
Aangesluit in1886 (Stigtingslid)
Vastelandse beheerliggaamRugby Europa
PresidentGreg Barrett
SetelLansdowne Road, Dublin, Ierland
Amptelike taleEngels en Iers-Gaelies
Amptelike webwerfirishrugby.ie

Geskiedenis wysig

Die Ierse Rugbyvoetbalunie het in 1879 met die samesluiting van twee beheerliggame ontstaan.[1] In 1886 het die IRFU saam met die Skotse Rugbyunie (SRU) en die Walliese Rugbyunie (WRU) die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR, nou Wêreldrugby) gestig.[2] Met die aansluiting van die Fédération Internationale de Rugby Amateur (FIRA; nou Rugby Europa) by die IRR in 1999 het Ierland ook ’n lid van dié kontinentale beheerliggaam geword.[3]

Taak wysig

Vlag van die Ierse Rugbyvoetbalunie
Die vier provinsiale beheerliggame van die Ierse Rugbyvoetbalunie

Die Ierse Rugbyvoetbalunie organiseer verskeie nasionale spanne, insluitend Ierland se nasionale seniormansrugbyspan, vroue en jeug. Die IRFU hou ook toesig oor sewesrugby in Ierland en aangesien dit ’n Olimpiese sportsoort is, werk hulle met die Britse en Ierse Nasionale Olimpiese Komitees saam. Naas die amptelike nasionale span roep die IRFU ook ander keurspanne byeen. Ireland Wolfhounds is die tweede nasionale span van Ierland, gevolg deur Emerging Ireland (“Opkomende Ierland”). Daarbenewens bestuur die beheerliggaam kinder- en jeugrugby in Ierland. Kinders en jongmense word reeds op skool aan rugby bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hul met hul afrigting. Ierland beskik oor ’n nasionale span vir studente, die Schoolboys, wat as ’n voorbereiding op die Ierse nasionale rugbyspan dien. Net soos ander rugbylande beskik Ierland oor ’n o/20-nasionale span wat aan die o/20-Sesnasies-toernooi en die Wêreldrugby o/20-kampioenskap deelneem.[4][5]

Die Ierse Rugbyvoetbalunie bestaan uit die vier provinsiale beheerliggame Connacht Rugby, Leinster Rugby, Munster Rugby en Ulster Rugby, wat elkeen met sy eie span deelneem aan die internasionale liga Verenigde Rugbykampioenskap, saam met spanne uit Italië, Skotland, Suid-Afrika en Wallis. Benede word die All-Ireland League tussen 50 spanne uit die hele Ierland uitgespeel. Bo die Verenigde Rugbykampioenskap word jaarliks saam met klubs uit Engeland, Frankryk, Italië, Skotland en Wallis die Europese Rugbykampioenskapbeker en die Europese Rugbyuitdagingsbeker uitgespeel.

Die Ierse Rugbyvoetbalunie organiseer ook gereeld internasionale toernooie. Hulle het al opgetree as gasheer van die rugbywêreldbekertoernooie in 1991 en 1999 (albei saam met die ander destydse Vyfnasies). Saam met die Engelse Rugbyvoetbalunie, die Franse Rugbyfederasie, die Italiaanse Rugbyfederasie, die Skotse Rugbyunie en die Walliese Rugbyunie organiseer hulle die jaarlikse Sesnasies-toernooi, die vernaamste rugbytoernooi in die Noordelike Halfrond.

Aangesien die Ierse nasionale rugbyspan beide die Republiek Ierland en Noord-Ierland verteenwoordig, gebruik hulle – nes die soortgelyke Ierse nasionale hokkiespan en die Ierse nasionale krieketspan – nie ’n nasionale vlag nie. Derhalwe gebruik die Ierse Rugbyvoetbalunie nóg een van die lande se volksliedere, nóg een val hul vlae as ’n verteenwoordigende simbool; pleks daarvan gebruik die Ierse nasionale rugbyspan sy eie vlag – dié van die Ierse Rugbyvoetbalunie – en himne.

Dit word as ’n groot prestasie beskou om saam met die Britse en Ierse Leeus na die Suidelike Halfrond te toer, waar hulle sowat al om die vier jaar teen die Nieu-Seelandse All Blacks, die Suid-Afrikaanse Springbokke of die Australiese Wallabies speel.[6]

Kenteken wysig

Die Ierse Rugbyvoetbalunie se kenteken toon ’n klawerblaar (Shamrock) en ’n rugbybal; ’n klawerblaar is al tydens die eerste wedstryd van ’n Ierse span in 1874 op hul embleem vertoon.

Sien ook wysig

Verwysings wysig

  1. (en) Tony Collins (2018). The Oval World: A global history of rugby. Londen: Bloomsbury. p. 122. ISBN 978-1-4088-4372-7.
  2. (en) "Ireland". Wêreldrugby. Besoek op 29 Maart 2024.
  3. (en) "About us". Rugby Europa. 2020. Besoek op 29 Maart 2024.
  4. (en) "Ireland U20". Sesnasies. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 23 Augustus 2023. Besoek op 23 Augustus 2023.
  5. (en) "World Rugby U20 Championship". Wêreldrugby. Besoek op 29 Maart 2024.
  6. (en) "British & Irish Lions". Britse en Ierse Leeus. Besoek op 29 Maart 2024.

Eksterne skakels wysig