Ewenaar

groot sirkel wat 'n sferoïed in noordelike en suidelike halfrond verdeel, veral daardie lyn vir die planeet Aarde

Die ewenaar of ekwator is 'n denkbeeldige breedtegraadlyn op die oppervlak van 'n ronde hemelliggaam, soos die Aarde, wat dit in 'n noordelike en suidelike halfrond verdeel. Dit is dus ewe ver van die noord- en suidpool. Op Aarde is die ewenaar 'n denkbeeldige lyn by breedtegraad 0 grade. Dit het 'n omtrek van sowat 40 075 km.[1] Die term kan ook vir enige ander hemelliggaam gebruik word wat min of meer rond is. Dit is dus die verdeling van die sferoïed by 'n vlak wat loodreg met die draaias en halfpad tusssen die geografiese pole lê.

'n Kaart van die wêreld wat die ewenaar in rooi wys.
'n Padteken wat die ewenaar naby Nanyuki, Kenia, aandui.
Die ewenaar tydens die noordelike winter, van Desember tot Maart.

By of naby die ewenaar op Aarde skyn die sonlig skynbaar elke dag, dwarsdeur die jaar, direk van bo af (nie meer as sowat 23° van die senit af nie). Die ewenaar het dus deur die jaar redelik stabiele dagtemperature. Met die nagewenings (min of meer op 20 Maart en 23 September) is die Son in 'n posisie regoor die ewenaar, en alle breedtegrade het 'n dag en nag wat albei omtrent 12 uur lank is.[2]

Oorsig

wysig

Die breedtegraad van die Aarde se ewenaar is, by definisie, 0°. Die ewenaar is een van vyf breedtegraadsirkels op Aarde; die ander vier is die twee poolsirkels (die Arktiese en Antarktiese Sirkel) en die twee tropiese sirkels (die Kreefskeerkring en die Steenbokskeerkring). Die ewenaar is die enigste sirkel waarvan die vlak deur die middel van die planeet loop. Die vlak van die ewenaar, wanneer dit uitwaarts na die hemelbol geprojekteer word, definieer die hemelewenaar.

In die siklus van die Aarde se seisoene loop die ewenaarvlak twee keer per jaar deur die Son: op die nagewenings in Maart en September. Vir 'n waarnemer op Aarde lyk dit of die Son op dié tye met die ewenaar (of hemelewenaar) langs beweeg.

Die ewenaar word aangedui waar dit deur São Tomé en Príncipe loop.
Die Marco Zero-monument dui die ewenaar in Macapá, Brasilië, aan.

Plekke op die ewenaar ondervind die kortste sonsopkomste en -ondergange, omdat die daaglikse pad van die Son vir die grootste deel van die jaar feitlik loodreg met die horison is. Die lengte van die daglig (van sonsopkoms tot -ondergang) is deur die jaar amper konstant; dit is sowat 14 minute langer as die nagtyd vanweë atmosferiese ligbreking en die feit dat sonsopkoms begin (en sonsondergang eindig) wanneer die boonste rand van die sonskyf aan die horison raak, en nie die middel nie.

Die Aarde bol effens uit by die ewenaar. Sy gemiddelde deursnee is sowat 12 742 km, maar by die ewenaar is dit 43 km groter as by die pole.[1]

Plekke naby die ewenaar, soos die Guiana-ruimtesentrum in Kourou, Frans-Guiana, is goeie liggings vir ruimtebasisse omdat hulle die vinnigste rotasiespoed van enige breedtegraad het: 460 m/sek. Minder brandstof is dus nodig om ruimtetuie in 'n ooswaartse rigtings in 'n wentelbaan te lanseer (in die rigting van die aarde se rotasie). Terselfdertyd word duur maneuvers vermy om die baanhelling tydens sendings te verklein, soos met die Apollo-maanlandings.[3]

Aardmeetkunde

wysig

Presiese ligging

wysig

Die presiese ligging van die ewenaar is nie regtig vas nie; die ware ewenaarvlak is loodreg met die Aarde se draaias, wat met sowat 9 m per jaar skuif.

Geologiese monsters wys die ewenaar het tussen 48 miljoen en 12 miljoen jaar gelede aansienlik van posisie verander, omdat sedimentneerslae by seestrome by die ewenaar geskuif het. Die neerslae by seestrome word bepaal deur die Aarde se draaias, wat weer sondekking van die aardoppervlak bepaal. Veranderings in die Aarde se draaias kan ook gesien word in die uitleg van kettings vulkaaneilande, wat geskep word deur die skuiwende warm kolle onder die aardkors namate die draaias en kors beweeg.[4] Dit klop met die Indiese tektoniese plaat wat teen die Eurasiese tektoniese plaat gebots het en die opligting van die Himalaja veroorsaak.

Presiese lengte

wysig

Die Internasionale Verening van Aardmeetkunde of Geodesie (IAG) en die Internasionale Sterrekundige Vereniging (IAU) gebruik 'n ewenaarradius van 6 378,1366 km (gekodifiseer as die IAU 2009-waarde).[5] Dié radius is ook opgeneem in die IERS-konvensies van 2003 en 2010.[6] Dit is ook die ewenaarradius wat vir die IERS 2003-ellipsoïed gebruik word. As die ewenaar regtig rond was, sou die lengte daarvan 2π keer so lank soos die radius gewees het, naamlik 40 075,0142 km. Die GRS 80 (Geodetiese Verwysingstelsel 1980), soos goedgekeur deur die IUGG op sy vergadering in 1979 in Canberra, Australië, het 'n ewenaarradius van 6 378,137 km. Die WGS 84 (Wêreld- Geodetiese Stelsel 1984), wat die standaard is vir gebruik in kartografie, geodesie en satellietnavigasie (insluitende GPS), gebruik ook dié radius. Vir beide GRS 80 en WGS 84 beteken dit 'n ewenaarlengte van 40 075,0167 km.

Die geografiese myl word gedefinieer as een boogminuut van die ewenaar, en dit het dus verskillende waardes na gelang van die radius wat gebruik word. Volgens WSG 84 is die afstand byvoorbeeld 1 855,3248 m, terwyl dit volgens IAU 2000 1 855,3257 m is. Dit is 'n verskil van minder as 1 mm oor die hele afstand (sowat 1,86 km).

Die Aarde word algemeen beskou as 'n sfeer wat by sy pole 0,336% afgeplat is. Dit maak die ewenaar 0,16% langer as 'n meridiaan ('n groot sirkel wat deur die pole loop). Die IUGG se standaardmeridiaan is, tot die naaste millimeter, 40 007,862917 km, waarvan een boogminuut 1 852,216 m is. Dit verduidelik die SI-standaardisasie van die seemyl as 1 852 m, meer as 3 m korter as die geografiese myl.

Die seeoppervlak van die aarde (die geoïed) is onreëlmatig, en die presiese lengte van die ewenaar is dus moeilik om te bepaal. Aviation Week and Space Technology het op 9 Oktober 1961 berig metings met die Transit IV-A-satelliet het gewys die ewenaar se deursnee van lengtegraad 11° Wes tot 169° Oos is 305 m groter as sy deursnee 90° van daar.

Ewenaarlande en -gebiede

wysig
'n GPS-lesing geneem op die ewenaar naby die Quitsato-sonwyser in Ecuador.[7]
'n Teken op die ewenaar in Ecuador.
Die pad N1 kruis die ewenaar in Gaboen.

Die ewenaar loop deur die grondgebied van 11 soewereine state. Indonesië is die land waardeur die grootste deel van die ewenaar op land en ter see loop. Van die hoofmeridiaan, in 'n oostelike rigting, loop die ewenaar deur:

KoördinateLand of
waterliggaam
Notas
0°N 0°O / 0°N 0°O / 0; 0Atlantiese OseaanGolf van Guinee, "Null-eiland"
0°0′N 6°31′O / 0.000°N 6.517°O / 0.000; 6.517 (São Tomé and Príncipe)  São Tomé en PríncipeLoop deur die Pestana Equador-oord op die Ilhéu das Rolas
0°0′N 9°21′O / 0.000°N 9.350°O / 0.000; 9.350 (Gabon)  GaboenLoop 8,9 km suid van Ayem, 10,6 km noord van Mayene, Booue
0°0′N 13°57′O / 0.000°N 13.950°O / 0.000; 13.950 (Republic of the Congo)  KongoLoop deur die dorp Makoua.
0°0′N 17°45′O / 0.000°N 17.750°O / 0.000; 17.750 (Democratic Republic of the Congo)  Demokratiese Republiek die KongoLoop 9 km suid van Sentraal-Butembo
0°0′N 29°44′O / 0.000°N 29.733°O / 0.000; 29.733 (Uganda)  UgandaLoop 32 km suid van Sentraal-Kampala
0°0′N 32°13′O / 0.000°N 32.217°O / 0.000; 32.217 (Lake Victoria)VictoriameerLoop deur 'n paar eilande in die distrikte Mukono en Namayingo
0°0′N 34°0′O / 0.000°N 34.000°O / 0.000; 34.000 (Kenya)  KeniaLoop 6 km noord van Sentraal-Kisumu en deur die berg Kenia, die hoogste berg in die land
0°0′N 41°0′O / 0.000°N 41.000°O / 0.000; 41.000 (Somalia)  SomaliëLoop suid van Jamame verby
0°0′N 42°53′O / 0.000°N 42.883°O / 0.000; 42.883 (Indian Ocean)Indiese OseaanLoop deur die Huvadhu-atol en Fuvahmulah
0°0′N 98°13′O / 0.000°N 98.217°O / 0.000; 98.217 (Indonesia)  IndonesiëNoord-Soematra Wes-Soematra, Pasaman en Riaoe-eilande
0°0′N 104°35′O / 0.000°N 104.583°O / 0.000; 104.583 (South China Sea)Suid-Chinese See
0°0′N 109°10′O / 0.000°N 109.167°O / 0.000; 109.167 (Indonesia)  IndonesiëBorneoprovinsie, Sentraal- en Oos-Kalimantan
0°0′N 117°31′O / 0.000°N 117.517°O / 0.000; 117.517 (Makassar Strait)Makassarseestraat
0°0′N 119°40′O / 0.000°N 119.667°O / 0.000; 119.667 (Indonesia)  IndonesiëDonggala en Parigi Moutong, Sentraal-Soelawesi
0°0′N 120°6′O / 0.000°N 120.100°O / 0.000; 120.100 (Gulf of Tomini)Golf van Tomini
0°0′N 123°22′O / 0.000°N 123.367°O / 0.000; 123.367 (Molucca Sea)Molukkesee
0°0′N 127°25′O / 0.000°N 127.417°O / 0.000; 127.417 (Indonesia)  IndonesiëKajoa- en Halmahera-eilande, Noord-Maloekoe
0°0′N 127°53′O / 0.000°N 127.883°O / 0.000; 127.883 (Halmahera Sea)Halmaherasee
0°0′N 129°21′O / 0.000°N 129.350°O / 0.000; 129.350 (Indonesia)  IndonesiëGebe- en Kawe-eilande, Noord-Maloekoe, Suidwes-Papoea
0°0′N 130°11′O / 0.000°N 130.183°O / 0.000; 130.183 (Pacific Ocean)Stille OseaanLoop tussen die Aranuka- en Nonouti-atol
0°0′N 91°35′W / 0.000°N 91.583°W / 0.000; -91.583 (Ecuador)  EcuadorIsabelaeiland
0°0′N 91°13′W / 0.000°N 91.217°W / 0.000; -91.217 (Pacific Ocean)Stille Oseaan
0°0′N 80°7′W / 0.000°N 80.117°W / 0.000; -80.117 (Ecuador)  EcuadorLoop 24 km noord van Sentraal-Quito en presies deur die ruïnes van Catequilla
0°0′N 75°35′W / 0.000°N 75.583°W / 0.000; -75.583 (Colombia)  ColombiaLoop 4,3 km noord van die grens met Peru
0°0′N 70°3′W / 0.000°N 70.050°W / 0.000; -70.050 (Brazil)  BrasiliëAmazonas, Roraima, Pará, Amapá
0°0′N 49°21′W / 0.000°N 49.350°W / 0.000; -49.350 (Atlantic Ocean)Atlantiese OseaanBy die Perigosokanaal aan die mond van die Amasonerivier

Die ewenaar loop deur die gebiedswater van drie lande: Maledive, Kiribati en die VSA.

Ondanks sy naam lê geen deel van Ekwatoriaal-Guinee op die ewenaar nie. Sy eiland Annobón is egter 155 km suid van die ewenaar en die res van die land lê noord daarvan. Die enigste drie lande van die Noordelike Halfrond met gebiede in die Suidelike Halfrond is Frankryk, Noorweë en die Verenigde Koninkryk.

Ekwatoriale seisoene en klimaat

wysig
'n Diagram van die seisoene, wat die situasie wys met die Desember-sonstilstand (somer in die Suidelike Halfrond). Ongeag die tyd van die dag (dus die Aarde se rotasie om sy as) sal die Noordpool donker en die Suidpool verlig wees. Benewens die digtheid van die invallende lig, sal die vermorsing van lig in die atmosfeer groter wees wanneer dit teen 'n vlak hoek val.

Seisoene kom voor vanweë die kanteling van die Aarde se draaias weg van die lyn wat loodreg met die vlak van sy omwenteling om die Son is. Deur die jaar is die Noordelike en Suidelike Halfrond om die beurt na of weg van die Son gekeer, na gelang van die Aarde se posisie in sy wentelbaan. Die halfrond wat na die Son gekeer is, kry meer sonlig en ondervind somer, terwyl die ander halfrond minder sonlig kry en winter ondervind. Met die nagewenings lê die aarde se as loodreg met die Son, wat beteken die dag en nag oor die hele Aarde is albei omtrent 12 uur lank.

Naby die ewenaar beteken dit die variasie in die sterkte van die sonstraling verskil meer van tyd tot tyd as by die hoër breedtegrade: die maksimum sonstraling word tydens die nagewenings ondervind en die minimum tydens die sonstilstande. Tog is temperature deur die jaar hoog vanweë die Aarde se askanteling van 23,5°, wat nie genoeg is om die Son se straling tydens die sonstilstande aansienlik te verswak nie. Hoë temperature deur die jaar word ondervind tot by omtrent 25° noord of suid van die ewenaar.

Naby die ewenaar verskil temperature min deur die jaar, hoewel daar drastiese verskille in reënval en humiditeit kan wees. Die terme somer, herfs, winter en lente is oor die algemeen nie van toepassing nie. Gemiddelde jaarlikse temperature in ekwatoriale laaglande is sowat 31 °C in die middag en sowat 23 °C met sonsopkoms. Ondanks die hoë temperature by seevlak, is daar gletsers by groter hoogtes soos op die Andes en Kilimandjaro. Die hoogste punt op die ewenaar is 4 690 m, aan die suidelike hange van vulkaan Cayambe in Ecuador (wat 'n piek van 5 790 m het). Dit is effens hoër as die sneeulyn en is die enigste plek op die ewenaar waar sneeu op die grond lê.

Verwysings

wysig
  1. 1,0 1,1 "Equator". National Geographic - Education. 6 September 2011. Besoek op 9 Maart 2021.
  2. "Equinox: Almost Equal Day and Night, By Aparna Kher". Besoek op 5 November 2021.
  3. William Barnaby Faherty; Charles D. Benson. "Moonport: A History of Apollo Launch Facilities and Operations". NASA Special Publication-4204 in the NASA History Series. p. Chapter 1.2. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 15 September 2018. Besoek op 8 Mei 2019.
  4. Funk, Anna (26 November 2018). "Millions of Years Ago, the Poles Moved — And It Could Have Triggered an Ice Age". Discover Magazine (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 24 September 2023.
  5. Luzum, Brian; Capitaine, Nicole; Fienga, Agnès; Folkner, William; Fukushima, Toshio; Hilton, James; Hohenkerk, Catherine; Krasinsky, George; Petit, Gérard; Pitjeva, Elena; Soffel, Michael; Wallace, Patrick (2011). "The IAU 2009 system of astronomical constants: the report of the IAU working group on numerical standards for Fundamental Astronomy" (PDF). Celest Mech Dyn Astr. 110 (4): 293–304. Bibcode:2011CeMDA.110..293L. doi:10.1007/s10569-011-9352-4. S2CID 122755461. Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 1 Augustus 2023.
  6. "General definitions and numerical standards" (PDF). IERS Technical Note 36. Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 18 Desember 2018.
  7. Instituto Geográfico Militar de Ecuador (24 Januarie 2005). "Memoria Técnica de la Determinación de la Latitud Cero" (in Spaans).

Skakels

wysig