Aanbidding van die konings (kuns)

Aanbidding van die konings is die naam wat tradisioneel aan 'n gewilde onderwerp in die Christelike kuns gegee word. Daarin lê sterrekenners uit die Ooste[1] geskenke van goud, wierook en mirre voor die Jesuskind en aanbid Hom nadat hulle Hom gevind het deur die ster van Betlehem te volg. Hulle word dikwels as konings voorgestel, veral in die Weste. In die 1933/'53-vertaling van die Afrikaanse Bybel word hulle "wyse manne" genoem en in die 1983-vertaling "sterrekykers". In Engelse Bybels is hulle bekend as "Magi", "Kings" of "Wise Men".

Gerard David, Aanbidding van die Konings, Nasionale Galery, Londen, 1515–1523.
Aanbidding van die Magi, Gentile da Fabriano, 1423.

Die verhaal word in Matteus 2:11-13 in die Bybel vertel:[2] "Hulle het in die huis ingegaan en die Kindjie saam met Maria, sy moeder, gesien, en hulle het gekniel en aan Hom hulde bewys. Daarna het hulle hulle reissakke oopgemaak en vir Hom geskenke uitgehaal: goud, wierook en mirre. En omdat God hulle in 'n droom gewaarsku het om nie na Herodes toe terug te gaan nie, het hulle met 'n ander pad na hulle land toe teruggegaan. Nadat hulle vertrek het, het daar 'n engel van die Here in 'n droom aan Josef verskyn en gesê: 'Staan op, neem die Kindjie en sy moeder en vlug na Egipte toe en bly daar totdat ek jou sê om terug te kom, want Herodes is van plan om die Kindjie te soek en Hom dood te maak.'"

Christelike ikonografie het die verhaal wat kortliks in die tweede hoofstuk van Matteus (Matteus 2:1-11) vertel word, grootliks uitgebrei en benadruk dat Jesus vanaf sy vroegste dae af erken word as die Koning van die aarde. Die toneel is dikwels gebruik om die geboorte van Christus voor te stel, wat een van die onontbeerlikste episodes is in siklusse van die Lewe van die Maagd sowel as die Lewe van Christus.

Op sommige kerkkalenders in die Weste word die gebeurtenis op 6 Januarie gedenk as Driekoningedag (ook genoem "Epifaniefees"). Die Oosters-Ortodokse Kerk gedenk die aanbidding van die wyse manne (of magi) tydens die Fees van die Geboorte van Christus (Kersfees, 25 Desember).

Geskiedenis van die uitbeeldings

wysig
Aanbidding van die Kind Jesus deur die drie Wyse Manne of Magi; sarkofaagreliëf (4de eeu.), Vatikaanstad.
Aanbidding van die Magi na Jheronimus Bosch.
Dirk Bouts, 15de eeu.

In die vroegste kunsuitbeeldings word die wyse manne getoon met Persiese drag van broeke en Frigiese pette, gewoonlik in profiel en met hulle geskenke voor hulle uitgestrek. Hierdie beelde is 'n aanpassing van die laat antieke houdings wat barbare gewoonlik in eerbied en onderwerping aan 'n keiser getoon het.

Die vroegste uitbeeldings kom van skilderye uit katakombes en reliëfs uit sarkofae van die 4de eeu. Krone maak eers in die 10de eeu hulle verskyning, meestal in die Weste, waar die draers se drag teen daardie tyd in die meeste gevalle hulle Oosterse karakter verloor het.[3] Die gebruiklike Bisantynse uitbeelding van die geboorte sluit die reis of aankoms van die berede wyse manne op die agtergrond in. Hulle bied egter nie hulle geskenke aan nie tot ná die Bisantynse tydperk, toe die Westerse uitbeeldings dikwels by 'n ikoonstyl aangepas is.

Die wyse manne word gewoonlik tot omstreeks dié tydperk as ewe oud uitgebeeld, maar dan word die idee gewild om hulle op drie verskillende ouderdomme te wys: 'n Besonder mooi voorbeeld hiervan kan gesien word op die vooraansig van die katedraal van Orvieto in Italië. Die wyse manne word ook van die 12de eeu af soms, en van die 15de eeu af in Noord-Europa gereeld, voorgestel as verteenwoordigend van die drie bekende wêrelddele van destyds: Balthazar word gereeld as 'n jong Afrikaan of Moor voorgestel, die bejaarde Kasper kry Oosterse gelaatstrekke of drag en die middeljarige Melchior verteenwoordig Europa.

Van die 14de eeu af word groot gevolge ook gewys, die geskenke is in ryk verierde bokse en meer aandag word aan die wyse manne se drag geskenk.[3] Teen die 15de eeu het kunstenaars dikwels hulle vermoë getoon om ingewikkelde tonele weer te gee: tonele met baie mense, perde en kamele, maar ook baie teksture, soos die sy, pels juwele en goud van die wyse manne se drag teenoor die hout van die stal, die strooi in Jesus se krip en die growwe klere van Josef en die herders.

Aanbidding van die Magi, deur Michael Damaskinos, omstreeks 1590.

Die onderwerp was tussen 1500 en 1530 veral gewild onder kunstenaars van Antwerpen. Die wyse manne is beskou as die beskermheiliges van reisende handelaars en dus van internasionale handel oor die algemeen, en baie van hulle kliënte was waarskynlik uit die verskillende internasionale sakegemeenskappe in Antwerpen.[4] In die Griekse wêreld het die Kretensiese skilder Michael Damaskinos die Grieks-Italiaanse Bisantynse styl laat herleef deur dit met die Venesiese skilderkuns te meng in sy weergawe van Aanbidding van die Magi omstreeks 1590.[5]

Die toneel bevat ook 'n redelike groot verskeidenheid diere: Die os en esel van die geboortetoneel kom meestal voor, maar ook die perde, kamele, honde en valke van die konings en hulle gevolg. Soms is daar ook ander diere, soos voëls in die dakbalke. Van die 15de eeu af is die aanbidding van die konings dikwels geïntegreer met die aanbidding van die herders uit die verhaal in die Evangelie volgens Lukas (Lukas 2: 8-20). Dit was 'n geleentheid om 'n nóg groter verskeidenheid mense en diere in te bring; in sommige komposisies (byvoorbeeld triptieke) word die twee tonele gekontrasteer of as komplementêre tonele van die sentrale toneel, gewoonlik 'n geboortetoneel, behandel.

Hugo van der Goes, Monforte-altaar, omstreeks 1470.
Die aanbidding van die Konings, deur Jan Gossaert, 1510'-15.

Die "aanbidding" van die wyse manne by die krip is die gebruiklike onderwerp van die kunswerke, maar hulle aankoms, wat die "optog van die wyse manne" genoem word, word dikwels gewys op die verre agtergrond van 'n geboortetoneel (gewoonlik op Bisantynse ikone), of as 'n aparte onderwerp. 'n Voorbeeld is die Magi-kapel in die Palazzo Medici Riccardi, Florence, se fresko's deur Benozzo Gozzoli. Ander onderwerpe sluit in die reis van die wyse manne, waar hulle en soms hulle gevolg die enigste figure is. Die wyse manne word gewoonlik getoon waar hulle die ster van Betlehem volg.

Die nut van die onderwerp vir die Kerk en die tegniese uitdagings daaraan verbonde het die aanbidding deur die konings 'n gunstelingonderwerp van Christelike kuns gemaak: veral van die skilderkuns, maar ook van beeldhouwerke en selfs musiek (soos in Gian-Carlo Menotti se opera Amahl en die Nagbesoekers).

Die onderwerp word ook in loodglas aangetref. Die eerste loodglasvenster wat in die Verenigde State vervaardig is, is die "Aanbidding van die Konings"-venster in Christ Church, Pelham, New York. Dit is ontwerp deur die stigter en eerste leraar se seun, William Jay Bolton.

Behandeling deur individuele kunstenaars

wysig
Deur broeders Angelico en Filippo Lippi, 15de eeu.

Honderde kunstenaars het al die onderwerp behandel, onder wie:

  • Aanbidding van die Wyse Manne, broeders Angelico en Filippo Lippi, Nasionale Kunsgalery, Washington, D.C.
  • Aanbidding van die Wyse Manne, Jheronimus Bosch, Museo del Prado, Madrid
  • Aanbidding van die Wyse Manne van 1475, Sandro Botticelli, Nasionale Kunsgalery, Washington, D.C.
  • Triptiek van die Maagd se Lewe, Dirk Bouts
  • Die Aanbidding van die Konings (Bruge), Nasionale Galery, Londen
  • Die Ster van Betlehem, Edward Burne-Jones, Birmingham-Museum en -Kunsgalery
  • Aanbidding van die Magi (Andrea della Robbia), Victoria en Albert-Museum
  • Sint Columba-altaarstuk, Rogier van der Weyden, Alte Pinakothek, München
  • Aanbidding van die Konings (Gerard David), Nasionale Galery, Londen
  • Aanbidding van die Wyse Manne (Dürer), Uffizi, Florence
  • Aanbidding van die Wyse Manne (Geertgen tot Sint Jans), Rijksmuseum
  • Aanbidding van die Wyse Manne, Domenico Ghirlandaio, Ospedale degli Innocenti, Florence
  • Die Aanbidding van die Konings (Gossaert), Nasionale Galery, Londen
  • Aanbidding van die Wyse Manne (Leonardo), Uffizi, Florence
  • Aanbidding van die Wyse Manne (Lorenzo Monaco), Uffizi
  • Aanbidding van die Wyse Manne (Gentile da Fabriano), Uffizi, Florence
  • Aanbidding van die Wyse Manne (Mantegna), Uffizi
  • Madonna en Kind (Masaccio), Gemäldegalerie, Berlyn
  • Aanbidding van die Wyse Manne (Perugino, Perugia), Galleria Nazionale dell'Umbria, Perugia
  • Aanbidding van die Wyse Manne (Rubens, Lyon), Museum van Beeldende Kunste van Lyon
  • Aanbidding van die Wyse Manne (Rubens, Cambridge), King's College Chapel, Cambridge
  • Aanbidding van die Wyse Manne (Rubens, Antwerpen), Koninklike Museum of Beeldende Kunste, Antwerpen
  • Aanbidding van die Wyse Manne (Velázquez), Museo del Prado, Madrid
  • Aanbidding van die Wyse Manne (Veronese), Nasionale Galery, Londen
  • Aanbidding van die Wyse Manne (tapisserie) deur Morris and Co met Edward Burne-Jones

Galery

wysig

Verwysings

wysig
  1. 2020-vertaling van die Afrikaanse Bybel.
  2. 1983-vertaling van die Afrikaanse Bybel.
  3. 3,0 3,1 Schiller, Gertrud; Seligman, Janet (1971). Iconography of Christian Art, Vol. I: Christ's incarnation, childhood, baptism, temptation, transfiguration, works and miracles, (Engelse vertaling uit die Duits), bl. 100–114 and figs. 245–298. Londen: Lund Humphries. OCLC 59999963
  4. Ainsworth, Maryan Wynn et al., From Van Eyck to Bruegel: Early Netherlandish Paintings in the Metropolitan Museum of Art, pp. 35–37, 2009, Metropolitan Museum of Art, 2009. ISBN 0-8709-9870-6, google books
  5. Hatzidakis, Manolis (1987). Έλληνες Ζωγράφοι μετά την Άλωση (1450–1830). Τόμος 1: Αβέρκιος – Ιωσήφ [Greek Painters after the Fall of Constantinople (1450–1830). Volume 1: Averkios – Iosif]. Athens: Center for Modern Greek Studies, National Research Foundation. pp. 241–251. hdl:10442/14844. ISBN 960-7916-01-8.

Eksterne skakels

wysig