Die Malabarkus (ook soms die Peperkus genoem) in die suidweste van Indië is in die wêreldgeskiedenis bekend om die speseryhandel in die koloniale tyd.

'n Strand op die Malabarkus.

Aardrykskunde wysig

Die kusstreek van nagenoeg 650 km in lengte tussen Mangalore en Kaap Comorin is ‘n alluviale laagvlakte tussen ‘n reeks heuwels (bekend as die Westelike Ghats) en die Arabiese See. Hierdie strook land is 48 tot 113 km breed en beslaan ‘n 50 000 km². Weens die uiters vrugbare grond is die streek baie dig bevolk met die gevolg dat die natuurlike plantegroei uitgewis is. Veral weens die swaar moesonreën is die lugvogtigheid van die streek besonder hoog. Temperatuurwisseling tussen die seisoene is gering. Langs die kus is verskeie strandmere en kanale (bekend as die “Backwaters”) waar sout gewin word. Onder die landbouprodukte is die speserye peper, kaneel, tamarinde en gemmer die bekendste. Verder lewer die landbou ook koffie, tee, rys, rubber, plantaardige olie en klapper sowel as die houtsoorte ebbehout, djati en sandelhout.

Stede en hawens wysig

Die vernaamste stede en hawens in die gebied met in hakies die naam van die plek in die koloniale era waar dit redelik verskil is:

  • Alappuzha (Alleppey)
  • Changanassery
  • Kannur (Cannannore)
  • Kanyakumari = Kaap Comorin
  • Kochi (Cochin)
  • Kollam (Quilan)
  • Kattayam
  • Kozhikode (Kalikoet)
  • Mahé
  • Mangaluru (Mangalore)
  • Nagercoil
  • Thalassery (Tellicherry)
  • Thiruvananthapuram (Trivandrum)
  • Thrissur (Trichur)

Geskiedenis wysig

Arabiese handelaars het speserye per skip via die Malabarkus na die Rooi See vervoer en verder met kameelkaravane na Kairo. Van daar oor die Nyl per boot na Alexandrië. Fenisiese en Venesiese skepe het die speserye en sy opgelaai en oor die Middellandse See na Venesië geneem. Vanuit Venesië en Alexandrië is die produkte oor ‘n wye gebied versprei en het beide die stede deur hierdie handel skatryk geword. Die Portugese wou hierdie winsgewende handel graag oorneem en onderneem geheime verkenningstogte. Net voor 1500 besoek Pero Covilhã die Malabarkus. Vasco da Gama ontsluit die seeweg na die Ooste. Die ontdekking van die seeroete van Europa na Indië het Portugal as oorheersende mag in die Ooste gevestig. Hierdie belangrike gebeurtenis in die wêreldgeskiedenis het amper elke land in Wes- en Sentraal-Europa beïnvloed. In 1505 stig die Portugese die eerste handelsposte op die Malabarkus. Jaarliks vertrek daar Portugese vlote na daardie faktorye om die kosbare ladings te gaan haal. Die gebied word in die jare 1661 tot 1663 deur die VOC verower en verkry die maatskappy die alleenhandel op peper. In 1699 word steggies van die koffieplant van die gebied na Batavia gebring. Tussen 1795 en 1814 beheer Engeland die streek en Nederland weer tussen 1814 en 1824. Daarna word dit ‘n Engelse kolonie.

Bronnelys wysig

  • De Wet, Con en Leon Hattingh en Jan Visagie (reds.): Die VOC aan die Kaap, 1652-1795. Pretoria: Protea, 2016. ISBN 978-1-4853-0019-9
  • Dias 88. In: Lantern. Tydskrif vir Kennis en Kultuur. Jaargang 37, nr. 1, Januarie 1988